Lede van die Worcester-polisie het verlede week die provinsiale eenheid teen ontvoering gehelp om ’n verdagte vas te trek.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het sewe verdagtes ’n man in Delft op die Kaapse Vlakte ontvoer.

“Die kapers het toe met die man, tesame met sy Ford Ranger-bakkie, Worcester toe gery. ’n Soektog deur die onderskeie eenhede is Dinsdag (3 September) in Avianpark uitgevoer. Ses verdagtes is daar opgespoor. Hulle is almal met die saak verbind deur middel van ’n bankrekening wat hulle gebruik het vir losprysgeld. Hulle het ook almal saam gewoon waar hulle die slagoffer gyselaar gehou het,” verduidelik Jacobs.

Die polisie het drie mans van onderskeidelik 29, 26, 21 en 40 jaar tesame met twee vroue, 28 en 33, in Avianpark in hegtenis geneem.

Een verdagtes was egter nog soek en het die slagoffer se bakkie in sy besit gehad.

“Ondervraging van die verdagtes het die polisie gelei na waar die ander verdagte was.

“Die polisie het die gebied gefynkam en dopgehou. Die beamptes het toe die bakkie op die pad raakgesien en toe hulle dit wou voorkeer, het die bestuurder weggejaag. Die jaagtog het egter in Essopstraat in Roodewal tot ’n einde gekom.”

Die verdagte het met die bakkie teen ’n lamppaal vasgery.

“Hy is deur verskeie lede van die provinsiale en plaaslike eenhede, insluitend die honde-eenheid, agternagesit. Nadat hy teen die lamppaal gebots het, het die polisiebeamptes hom te voet verder gejaag. Verskeie skote is afgevuur en hy is in sy voet raakgeskiet. Hy is toe uiteindelik in hegtenis geneem.”

Die klagtes teen die laaste verdagte is besit van ’n gesteelde voertuig, roekelose en nalatige bestuur en poging tot moord. Die ander ses verdagtes word ook deur aanklagte in die gesig gestaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article