Shawn Olivier neem binnekort aan die SA kampioenskap vir kulkunstenaars deel. Foto:


Shawn Olivier, ’n 19-jarige van De Doorns, neem later hierdie maand aan die jaarlikse Suid-Afrikaanse kampioenskap vir kulkunstenaars deel.

Hy het in 2019 op kulkuns verlief geraak.

“Ek het eendag na America’s Got Talent op televisie gekyk en ’n kulkunstenaar was die spesifieke dag op die program. Ek het dit so geniet en hoewel sy toertjies my verstand te bowe gegaan het, het ek onmiddellik verlief geraak daarop,” verduidelik hy.

Hy het soveel van die kulkuns begin hou dat hy in 2021 by die College of Magic in die Kaap aangesluit het.

“Ek was nog op skool toe ek by hulle aangesluit het. Hierdie jaar is my finale jaar. En daar leer hulle ons nie net om toertjies te doen nie, maar ook respek, vertoonkuns en hoe om met mekaar te kommunikeer. Wanneer ek oor twee maande hier klaarmaak, is ek dan ’n professionele kulkunstenaar.”

Die kampioenskap vind op Saterdag 28 September plaas en Olivier sien baie daarna uit.

“Dit beteken regtig baie vir my om op so ’n platform te kan deelneem. Ek het hard gewerk daarvoor, baie opofferings gemaak; die finansies was ook nie altyd lekker nie, maar op ’n manier het ek hier uitgekom. Om met so baie ander talentvolle kulkunstenaars van oor die land heen te kan deelneem, is nogal ’n groot ding vir my.”

Hy sien baie daarna uit om sy vaardighede en talente op die kampioenskap se verhoog ten toon te stel. “Ons moet ’n hele roetine hê waarop ons beoordeel sal word. Ek het groot vertroue in my roetine en sien uit daarna om dit op te voer.”

Wanneer hy by die kollege klaarmaak, wil hy graag sy eie organisasie begin en ander die kuns leer. Hy wil ook dan by byeenkomste begin optree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article