Hier is die slot wat sonder ’n verduideliking aan Chipros se hek geplaas is.


Slotte sonder sleutels, agterstallige rekeninge, kommunikasieprobleme en vandalisme is maar van die faktore wat gelei het tot ’n geskil tussen ’n bekende welsynorganisasie en die plaaslike munisipaliteit.

Chipros, ’n organisasie sonder winsbejag wat geleë is in Riverview, fokus op gemeenskapsontwikkeling en projekte wat inwoners kan bystaan en ophef.

Die organisasie se voorsitter, Charles Beukes, sê die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het hierdie welsynorganisasie in ’n geweldige skuldlas gedompel weens sy eie pligsversuim en onvermoë om te kommunikeer.

Beukes, wat al jare hierdie organisasie bedryf, verduidelik dat die geskil al sedert 2020 kom.

“Ek het elke maand stiptelik die munisipale rekening betaal. ’n Rekening wat nooit gestel het dat dit agterstallig was nie. Wat dit erger maak, is die feit dat ons nie toegang tot die elektrisiteitsboks het om self ’n lesing te kon neem nie, maar so ook nie eens die munisipaliteit nie – nadat hulle dit met hul eie slot gesluit het.”

Beukes voer aan dat die BVM ’n slot aan die meterboks geplaas het en hy later verneem het dat die elektriese afdeling nooit ’n duplikaatsleutel aan die finansiële afdeling verskaf het om die lesings te kon neem nie. In 2020 ontvang Beukes toe egter ’n skrywe wat stel dat sy rekening met meer as R12 000 agterstallig is.

“Dit maak nie vir my sin nie, want elke maand het ons die rekening betaal – die rekening soos die munisipaliteit self aan ons verskaf het. Hoe plaas jy dan ’n slot aan ’n boks en die mense wat dit benodig om hul werk uit te voer, kan nie hul werk doen nie,” vra Beukes.

Ná talle klagtes en gesprekke tussen Beukes en die BVM is die slot bloot verwyder, maar die agterstallige rekening het bly staan – al is daar duidelikheid gegee dat ’n geskatte lesing geneem is en volgens Beukes nie alle departemente binne die munisipaliteit die regte sleutels gehad het nie.

Intussen, nadat die slot verwyder is, het vermoedelik kwaaddoeners gepeuter aan die meterboks en grootskaalse skade aangerig. Skade wat Beukes volgens hom self op sy eie onkoste moes regmaak. Toe Beukes ook eendag by die organisasie opdaag, het hy opgemerk dat een van die drie toegangshekke – wat aan die organisasie behoort – met ’n munisipale slot gesluit is. Hy voer aan dat hy met meer vrae as antwoorde sit en dat sy een hek steeds deur ’n munisipale slot gesluit is.

“Ons loop net konstant in ’n muur van geheimhouding vas. Waarom is ’n geskatte lesing geneem? Waarom het almal nie sleutels gehad nie? Waarom is ons nou verantwoordelik vir ’n agterstallige rekening en hoekom moet ons dan nadat die slot verwyder is pa staan vir die vandale? Hoekom ’n slot aan ons eie hek kom sit?” wou Beukes weet.

Standard het egter gaan kers opsteek by die kommunikasie­hoof van die BVM, Chad Malgas. Hier is hoe hy die situasie verduidelik.Oor die slotte:

Omhulsels word hoofsaaklik toegesluit as gevolg van die risiko van vandalisme. Ná ’n inspeksie in 2020 was dit duidelik dat die meterkas nie in ’n goeie toestand was nie en swak onderhou is. Die kliënt/instansie moet daarop let dat die betrokke meterboks die eiendom van die eienaar is; terwyl die meettoestelle binne-in aan die munisipaliteit behoort.

Om die betrokke munisipale bate te beveilig, is slotte aangebring. Die elektriese dienste-afdeling het in Oktober 2019 ’n versoek van die finansiële dienste-afdeling ontvang om slotte by die perseel te verwyder (een by die syhek-ingang en die ander by die kliënt/instansie se meterkas) om die meterlesers toegang tot die eiendom te gee. Daarna is ’n amptenaar gevra om die slot te vervang om veiligheid van die bate te verseker. By ontvangs van ’n opvolgbesoek van die finansiële dienste-afdeling het die elektriese dienste-afdeling egter gemerk dat die taak nie voltooi is nie. Die departement erken dat hierdie gebrek aan toesig moontlik bygedra het tot die ongerief wat die kliënt/instansie ervaar en dra daarom ’n opregte verskoning in hierdie verband oor.Oor die agterstallige rekening:

Die inkomstedienste-afdeling het die kliënt/instansie egter behoorlik ingelig via ’n kennisgewing wat op die munisipale rekening ingesluit is dat die bedrag wat gefaktureer is, geskat word.

Daarbenewens bly die instansie aanspreeklik om alle verskuldigde bedrae ooreenkomstig met die werklike verbruik te vereffen, tensy die kliënt/instansie van voorneme is om appèl aan te teken. Oor die vandalisme:

Die meterkas bly die eiendom van die instansie, dus sal alle koste verbonde aan die herstel en/of instandhouding hiervan vir die eienaar se rekening wees. BVM aanvaar slegs aanspreek­likheid van vandalisme en/of diefstal wat toegedien is op meettoestelle aangesien dit die munisipaliteit se eiendom is.

Beukes stel egter dat daar nooit met hom gekommunikeer is om te sê dat hulle probleme het met toegang tot die terrein of die meterkas nie, hoewel hulle sy kontakbesonderhede het. Hy voel BVM probeer homself verdedig uit ’n duidelike onverdedigbare situasie om hul eie nalatigheid en swak kliënteskakeling te verskoon.

“Volgens hul antwoord het die elektriese dienste-afdeling ’n sleutel aan finansies gegee om die meter te lees. So watter rede het finansies dan gehad om ’n skatting te doen in plaas van die korrekte lesing te gee? Dis mos dan gruwelike pligsversuim waaronder ons as kliënt nou ly. En is daar ooit opgetree teen die meterlesers wat hul plig versuim het? Hulle verduidelik nie hoekom hulle in die jaar die slot wat hulle aan die meterkas gesit het, afgehaal het sonder om ons in kennis te stel nie en ons blootstel aan vandalisme waarvoor hulle nie verantwoordelikheid aanvaar nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article