Verwarring het verlede week in die Witzenberg geheers toe daar skielik aangekondig is ’n nuwe burgemeester, speaker en onderburgemeester is verkies.
’n Mediaverklaring vanuit die speaker se kantoor vertel egter ’n ander storie.
Volgens die verklaring het die speaker, Elizabeth Sidego, ’n vergadering wat vir verlede week geskeduleer is, gekanselleer weens omstandighede buite die raad se beheer, insluitend die sluiting van Michillspas.
“ ’n Groep raadslede het egter besluit om die speaker se besluit te verontagsaam en het ’n ongemagtigde vergadering gehou. Tydens hierdie vergadering is mosies van wantroue ingedien en hulle het ’n nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker verkies,” lui die verklaring.
“Dit is belangrik om duidelik te maak dat die speaker nie geweier het om ’n vergadering byeen te roep nie en binne haar regte was om dit uit te stel weens die onlangse rampsituasie in Witzenberg.
“Volgens die Wet op Munisipale Strukture kan die meerderheid van die raad ’n vergadering van die speaker versoek, en as die speaker weier, kan die munisipale bestuurder dit byeenroep.
“Die vergadering was onwettig weens ’n gebrek aan ’n kworum, met slegs elf lede teenwoordig. Verder het nóg die speaker, nóg die munisipale bestuurder die vergadering byeengeroep, soos deur wetgewing vereis, en die raad se ordereëls is nie nagekom nie, wat die vergadering nietig maak,” lui die verklaring voorts.
Die verkose burgemeester bly dus steeds Hennie Smit en raadslid Elizabeth Sidego bly aan in die pos van speaker van die raad, terwyl die posisie van onderburgemeester steeds vakant bly. –Vervolg op bladsy 2.


