’n 32-jarige man is verlede Woensdag (2 November) in sy woonstel in Roodewal tydens beurtkrag koelbloedig doodgeskiet.

Henry Booysen het die betrokke Woensdagaand ’n klop aan sy woonstel se deur gehoor en daarop gereageer.

Hy en twee mans het blykbaar in die woonstel gestaan en gesels en minute later is die skoot, wat sy lewe geëis het, afgevuur.

Booysen se broer, Troep, was in die kamer en het gehoor hoe die mans gesels.

Minute later moes hy sy bebloede broer te hulp snel.

“Ek is nou nog geskok. Ons het saamgebly en ons het eintlik net mekaar hier gehad. Hy was ongetroud en het ook nie kinders nie. Ons sal hom vreeslik mis.”

Volgens ooggetuies het drie mans – twee in swart sweetpakke en een in ’n rooi top – die trappe na die Booysens se woonstel opgeklim.

Dit was tydens beurtkrag en redelik donker.

Nadat een van die mans Booysen geskiet het, het hulle dadelik te voet van die toneel af gevlug.

“Ons weet nie wie dit was nie en ek kon nie uit hul gesprek uitmaak of hulle mekaar geken het nie.

“Ons weet net dat hulle wel maskers aangehad het, soos die mense hieronder gesien het.”

Die plaaslike polisie het ook die voorval bevestig.

“Ons het nog geen leidrade wat die verdagtes betref nie en ’n saak van moord word ondersoek,” het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie aan Standard gesê.

Booysen se broer pleit dat mense die gesin in hul rouproses in ag moet neem.

“Ons vra dat mense asseblief sensitief sal omgaan met hierdie saak en ons as familie die tyd en respek gee sodat ons oor my broer kan rou. Ons vra ook dat geen wraakaanvalle in hierdie verband gedoen word nie. Ons soek net berusting.”

Hy het self ook baie na sy broer opgekyk en sal veral sy sin vir humor mis.

“Hy was enig in sy soort. Hy was spontaan en ’n jongman met ’n lus vir die lewe. Hy het voluit gelewe. Hy was vir baie mense ’n inspirasie.”

Die familie sal Saterdag (12 November) tydens ’n seremonie by die huis afskeid neem, waarna ’n kerkdiens gehou sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article