’n Oud-amptenaar van die Bergrivier-munisipaliteit is Dinsdag 28 Januarie in die Bellville-handelsmisdaadhof op 435 aanklagte van bedrog tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Die verlies wat die munisipaliteit gely het, beloop meer as R1,3 miljoen.

Van Pieter Adams (57) se tien jaar tronkstraf is ses jaar vir vyf jaar opgeskort, wat beteken dat Adams effektief vier jaar direkte gevangenisstraf sal uitdien.

Volgens lt.kol. Siyabulela Vukubi, ’n woordvoerder vir die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek, algemeen bekend as die Valke, het Adams op al die aanklagte van bedrog skuld beken.

Hy het van 1 Julie 2002 tot sy bedanking op 25 November 2019 as hoofkredietbeheerklerk by die munisipaliteit gewerk.

Adams het tussen Maart 2016 en September 2019 na bewering 700 918,3 eenhede gratis koopkragbewyse ter waarde van R1 310 507,40 vir voorafbetaalde meters aan huishoudings en sakeondernemings uitgereik.

Hy het die geld wat hy vir die koopkragbewyse gekry het, vir homself gehou.

Volgens Vukubi het hy ook die gratis koopkragbewyse op bedrieglike wyse vir mense op die stelsel gelaai.

Die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad het die saak ondersoek en Adams op 7 Maart 2023 luidens ’n lasbrief in hegtenis geneem. Hy is hierna op borgtog van R500 vrygelaat.

Volgens ’n beslagleggingsbevel ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad sal Adams se volle pensioenfondsvoordeelbedrag van R510 106,31 in die Munisipale Werkers-aftreefonds van die munisipaliteit gedeponeer word.

Adams se eerste botsing met die gereg was al in 1995 toe hy skuldig bevind is aan roekelose en nalatige bestuur en in 1997 aan die verkoop van alkohol sonder ’n lisensie.

Daar is intussen ook onder meer aanrandingsake teen hom geopen, waarop hy gewaarsku en vrygelaat is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article