Danie Hefers

Is die Agterbaai se drinkwater dalk met skadelike asbesvesels besoedel? Dit is die vraag wat bekommerde inwoners in St. Helenabaai stel ná herhaalde pypbarste wat gefrustreerde ­huishoudings en sakelui deesdae gereeld vir ure sonder water of met lae waterdruk laat.

Volgens Gerhard Snyman, ‘n inwoner van die Lampiesbaai-woonbuurt, het hy onlangs foto’s geneem van die toneel waar herstelwerk ná ‘n pypbars aan die hoofvoorsieningspyplyn langs die R399-pad na Vredenburg en Velddrif gedoen is.

Dié foto’s het vrae laat ontstaan of die pyp moontlik van asbes vervaardig is, óf dit sou kon bevat.

Snyman, wat sedert 2020 in die Lampiesbaai-woonbuurt bly, sê hy het reeds in 2023 vrae gestel nadat hy inligting by ‘n voormalige SBM-werker gekry het oor die dorp se bestaande infrastruktuur.

“Hy het gesê die Weskus-distriksmunisipaliteit se hoofvoorsieningspyplyn wat water na St. Helenabaai voer, bevat asbes. Dit maak my bekommerd. Dit is drinkwater. Dit kan gevaarlik wees.”

Weslander het sélf gesien hoe pypstukke oral rondlê, en ván die stukke na ‘n kenner van sementprodukte in Vredenburg geneem. Hy meen die pypstukke is ongetwyfeld ‘n mengsel van sement en asbes.

Asbes-sementpype (AS-pype) is op groot skaal tussen 1950 en 1970 in die land se water- verspreidingspyplyne geïnstalleer en word steeds deur baie munisipaliteite gebruik. Aange­sien vele AS-pype nou reeds hul ­ontwerp- of diensleeftyd oorskry, lei dit tot gereelde pypbarste.

In studies is bevind dat verhoogde waterdruk, lengte en die ouderdom van pype die belang- rikste bydraende faktore tot die afskilfering en vrystelling van asbesvesel in drinkwater is. Syfers toon dat sowat 90 000 mense jaarliks wêreldwyd aan asbesverwante siektes sterf. Die

gebruik van asbes is reeds in 2008 in Suid-Afrika verbied.

Die St. Helenabaai-sakekamer het ook sý kommer oor die toename in pypbarste en wateronderbrekings uitgespreek.

Volgens Stoan Bartel, die sakekamervoorsitter, wek die onderbrekings ook groter kommer oor die toestand en verou- dering van die waternetwerk se infrastruktuur, en heers daar gesondheidsbekommernisse oor die samestelling van sommige van die ouer pypmateriale.

Dit is egter nie net St. Helena- baai se inwoners wat gereeld met pypbarste en wateronderbrekings moet worstel nie. Verskeie ander dorpe in die Saldanhabaai- munisipale gebied gaan ook al geruime tyd onder gebrekkige en onvoldoende infrastruktuur gebuk.

Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder van die SBM, is baie van die bestaande pype verouderd en geneig tot barste.

“ ’n Beduidende gedeelte van die bestaande waternetwerk bestaan uit asbes-sementpype. Daar word beraam dat ongeveer 80% van die huidige waterpyp- infrastruktuur uit asbesmateriaal vervaardig is.”

Die munisipaliteit implementeer ‘n gestruktureerde pypvervangingsprogram. SBM voer maandeliks watergehaltetoetse uit. SBM het ook in 2023 Bloudruppel-status vir waterbestuur en gehalte behaal. Daar word beplan om die bestaande 375 mm waterpypleidings met ‘n nuwe 650 mm HDPE-waterleiding oor ongeveer 20 km te vervang. Die beraamde koste beloop ongeveer R200 miljoen, en die projek is tans in die ontwerpfase.

Heinrich Robertson, die WKDM se woordvoerder, het beaam die hoofoorsaak van die gereelde pypbarste is die ouderdom van die infrastruktuur. Die pyplyn het sy verwagte lewensduur oorskry. “Die pypstelsel is gedurende die 1970’s geïnstalleer in ‘n era waarin asbes-sementpype algemeen gebruik is.”

Die munisipaliteit het bevestig dat die vervanging van die bestaande 375-mm-pyplyn reeds geïdentifiseer en geprioritiseer is. “Finale beplanning vir die projek word tans afgehandel, waarna die vervanging van die pyplyn oor die volgende drie jaar sal plaasvind,” sê Robertson.

• Besoek novanews.co.za/weslander/kommer-oor-moontlike-asbes-in-weskus-drinkwater/ vir die volledige berig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 21 May 2026
    Weslander E-Edition – 21 May 2026

Gift this article