Kunstenaar Lidi de Waal se nuwe boek Miaau gee lesers insig oor haar liefde vir katte.
De Waal glo dat troeteldiere ’n belangrike rol in die lewens van mense speel. Sy beskryf haarself as ’n Facebook-skrywer. “Ek skryf elke dag of elke tweede, derde dag ’n nuwe stuk oor dinge wat ek ervaar, voel en oor gebeurtenisse. Vir die laaste ses tot sewe jaar het ek soveel materiaal gekry oor verskeie dinge dat ek so elke nou en dan, ’n boek van dit wat ek het bymekaar sit,” vertel sy.
Dus het sy die besluit geneem om die keer oor haar katkinders te skryf en deel meer oor hul doen en late, hul heengaan, nuwe katte en soveel meer.
De Waal het deur die jare baie foto’s van haar katte geneem en met haar nuwe boek was dit die perfekte geleentheid om dit te gebruik. “Aanvanklik het ek met my selfoon geneem maar toe later het ek vir my ’n kamera gekry. Dis asof jy heeltemal anders begin kyk na die wêreld en na dinge rondom jou, sodra jy ’n kamera voor jou oog het.”
Vir de Waal bring dit soveel vreugde om haar stories te deel. “Elke keer as ek ’n nuwe uitstalling doen of ’n nuwe boek bymekaar sit, dan kyk ek na die vorige een wat uitgegee is, en sê vir myself “you must up your game”.
Met die hulp van vriende met kennis oor digitale ontwerp is die boek gevul met sketse, foto’s, teks en doodles. “So dis ’n baie besige boek, amper iets soos ’n joernaal of ’n scrapbook. Dis vir my amper iets meer modern om te wys wat jy bymekaar kan sit met die toerusting wat jy vandag het, so ek is baie opgewonde oor die boek.”
Miaau word bekendgestel by De Waal se kunsuitstalling in Yzerfontein op Donderdag 15 Desember om 19:00. Om te bespreek kontak Marli by 082 829 8455. Toegang is ’n donasie by die deur.


