Die gemeenskap van Laaiplek, Velddrif is Sondagoggend 17 Maart geruk deur nuus van die tragiese afsterwe van ’n gewilde jongman van dié Weskus-dorp.

Markus “Makkie” Bester (34), bestuurder van die bekende Laaiplek-hotel is Saterdagaand (16 Maart) in ’n ongeluk dood.

Sy broer, Stegmann, en dogter (7), wat ernstig in die ongeluk beseer is, is in die hospitaal. Stegmann se geliefde hond, Luka, was ook in die motor, en het vermoedelik gevlug ná die ongeluk maar is intussen teruggevind.

Min inligting rondom die ongeluk is nog op hierdie stadium bekend. ’n Navraag is aan die polisie gestuur en hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

Laaiplek-hotel het intussen die hartseer nuus op hul Facebook-blad bevestig.

Hulle het almal bedank vir hul ondersteuning en gevra dat die familie tyd gegun word “om te rou oor die groot verlies”.

“Ons personeel het nie net ’n baas verloor nie, maar ’n bloedbroer en vriend. Almal se harte is stukkend,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.

“‘n Baie hartseer dag vir ons. Hier is ons familie meer as kollegas,” lui ‘n tweede inskrywing met ‘n foto van die personeel by ‘n foto van Bester en ‘n tafeltjie met kerse wat aangesteek is ter nagedagtenis aan hom.

Bester was ’n oudleerder van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS). Die skool se oudstudentebond het ook in ‘n Facebook-plasing eer aan hom betoon en sy familie sterkte toegewens in die moeilike tyd.

Boodskappe van medelye stroom sedert nuus van sy afsterwe op Facebook in.

  • Lees die volledige berig in Weslander op Donderdag 21 Maart.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article