Ons almal hoop dit gebeur nooit nie, maar ongelukke met troeteldiere gebeur dikwels wanneer ‘n mens dit die minste verwag. ‘n Hond sny sy poot op ‘n stukkende bottel, ‘n kat brand haar pootjies op ‘n warm stoofplaat, of ‘n hondjie eet iets wat hy nie moes nie. In sulke oomblikke tel elke sekonde. Baie mense woon ver van ‘n veearts of het nie altyd vervoer of geld om onmiddellik hulp te kry nie. Daarom is ‘n eenvoudige noodhulpkissie vir troeteldiere so belangrik.
‘n Noodhulpkissie hoef glad nie duur of ingewikkeld te wees nie. Met ‘n paar basiese items kan jy vinnig optree en dalk jou troeteldier se lewe red voordat professionele hulp beskikbaar is. Dit help ook met kleiner beserings wat maklik by die huis behandel kan word. ‘n Klein snyplek, insekbyt of splinter in ‘n poot kan baie pynlik wees en later infeksie veroorsaak as dit nie behandel word nie.
Die goeie nuus is dat jy maklik self so ‘n kissie kan saamstel. Gebruik ‘n plastiekhouer, koekblik of selfs ‘n skoendoos. Hou dit netjies georganiseer, duidelik gemerk en op ‘n droë plek waar almal in die huis dit maklik kan kry.
Basiese items sluit in steriele soutoplossing of soutwater om wonde en oë uit te spoel, gaas, watte en verbande om bloeding te help stop, asook kleef-of rekverband wat maklik om ‘n poot draai. ‘n Skêr met stomp punte is handig om verbande te sny, terwyl ‘n pincet of klein tangetjie gebruik kan word om dorings, splinters of bosluise te verwyder. Weggooihandskoene help om wonde skoon te hou en beskerm jou teen infeksies.
‘n Digitale termometer is nuttig om jou troeteldier se temperatuur te meet, maar onthou dat diere se normale temperatuur hoër as mense s’n is. Dit is slim om by jou veearts navraag te doen oor die normale temperatuur vir jou spesifieke troeteldier.
Ander nuttige items sluit in ‘n handdoek of klein kombers om ‘n dier warm te hou of veilig toe te draai, ‘n muilband of lang lap vir noodgevalle, en ‘n spuitjie sonder naald vir vloeistowwe of wondspoeling. Sommige mense hou ook ‘n flitslig, ekstra batterye, ‘n notaboekie en belangrike noodnommers in die kissie.
Dit is belangrik om te onthou dat menslike medisyne gevaarlik vir troeteldiere kan wees. Medisyne soos parasetamol, aspirien en ibuprofen kan ernstige skade veroorsaak en moet nooit sonder veeartsadvies gebruik word nie. Indien jou troeteldier medikasie gebruik wat deur ‘n veearts voorgeskryf is, hou eerder ‘n ekstra voorraad daarvan in die kissie.
Nog iets wat baie mense onderskat, is kennis. Dit help nie jy het al die regte items, maar weet nie hoe om dit te gebruik nie. Basiese noodhulpkennis, soos hoe om bloeding te stop of ‘n beseerde dier veilig te hanteer, kan ‘n verskil maak.
Maak dit ook ‘n gewoonte om jou noodhulpkissie elke paar maande na te gaan. Vervang gebruikte items en maak seker niks het verval of is beskadig nie.
Ons troeteldiere is deel van ons families. Hulle gee liefde, beskerming en geselskap sonder om iets terug te vra. Om voorbereid te wees vir noodgevalle is een van die eenvoudigste maniere om daardie liefde te beloon.






