Die Sea Harvest Foundation Health Run vind op Saterdag 20 Junie op Saldanha plaas, en entoesiaste wat aanlyn wil inskryf, moet dit vóór Sondag 7 Junie doen.
Een van die hoogtepunte vir die organiseerders is dat die Sea Harvest Foundation as die hoofnaamborg aan boord gekom het.
Volgens Kevin Lodge van Top Events is daar ‘n halfmarathon, asook 10 km- en 5 km-roetes waaruit deelnemers kan kies, met T-hemde ook aanlyn te koop. Daar sal ook dosyne gelukstrekkings wees.
“Ons moedig jongmense aan om aan die 5 km deel te neem, en vir die ouderdomsgroep ouer as 80 sal daar spesiale pryse wees.”
Lodge sê ook daar is verskeie skoenbewyse van Brooks-skoene wat gewen kan word.
“Honderde werknemers van Sea Harvest het gekies om in te skryf. Vir sommige van hulle is dit die eerste keer wat hulle aan so ‘n geleentheid deelneem.”
Volgens Leonie Vorster, een van die plaaslike organiseerders, is die hoofdoel van die Health Run om Saldanha se naam op te hef en ‘n finansiële inspuiting vir die dorp en sy mense te wees.
“Die impak is dat mense hoor en sien Saldanha is die juweel van die Weskus, met die mooiste strand en die mense met die meeste gees. Saldanha verdien om sulke geleenthede te skep om juis die dorp se besighede te help, met die impak aan die finansiële kant van die geleentheid.
“Daar is niks so lekker as wanneer ‘n mens moeg gehardloop is en iemand sing, dans en klap spesiaal vir jou hande nie. Sommige inwoners van byvoorbeeld Meresteyn-, Beach- en Ravenstrate, asook Parker Singel, sal sommer van hul eiendomme af kan ondersteun. Dis heerlik om met jou tuinstoel op jou voorstoep te sit en kyk hoe die drawwers verbykom.”
◘ Deelnemers word aangeraai om vroegtydig aanlyn op die Top Events-webwerf – www.topevents.co.za – in te skryf.
Stuur ‘n e-pos na andrea@topevents.co.za vir nog inligting. Volg ook die Health Run op Facebook.



