Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei- dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Jerome Farao (42) se lyk met drie steekwonde is Maandag 18 Mei omstreeks 22:20 op die hoeke van Jakaranda- en Eikestrate in Porterville gekry. Die polisie is op soek na sy aanvaller, wat se identiteit aan hulle bekend is. ‘n Moorddossier is geopen.
Op Saterdag 16 Mei omstreeks 17:10 het ‘n klein afleweringsvoertuig se band op die R365 naby Graafwater gebars, waarop die bestuurder, Juack Sochop (41), Sintia van der Westhuizen (39) en ‘n sesjarige seuntjie op die toneel oorlede is. Die seuntjie se ma is ernstig beseer en is nog nie bewus dat haar seuntjie dood is nie. Die 12 insittendes was onderweg van Clanwilliam na Graafwater. Die nege ander insittendes word vir ernstige beserings behandel. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Op Saterdagaand 16 Mei omstreeks 19:30 het die bestuurder van ‘n wit Toyota Urban Cruiser op die R45 Hopefield-pad naby Malmesbury vermoedelik beheer oor die voertuig verloor. Daar was vyf insittendes in die voertuig wat in die veld tot stilstand gekom het. Twee insittendes, Emihle Njambotwa (30) en Bulelani Yeko (40), albei van Kraaifontein, is op die toneel oorlede. Die ander drie insittendes het mediese behandeling in die Swartland-hospitaal vir hul ernstige beserings ontvang. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Op Saterdagaand 16 Mei het twee voertuie kop-aan-kop op die R364 by Clanwilliam gebots. Een van die voertuie, ‘n provinsiale verkeersvoertuig, het op die toneel uitgebrand. Al die insittendes in beide voertuie het ernstige beserings opgedoen en is na die Clanwilliam-hospitaal vir behandeling geneem. Die bestuurder van ‘n VW Polo het in die hospitaal gesterf en sy naasbestaandes word nog opgespoor. Volgens ‘n ooggetuie het die Polo in die verkeerde baan gery toe dit die verkeersvoertuig tref. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Sharon Baron (25) was Saterdagaand 16 Mei in Citrusdal na bewering in ‘n argument met haar 43-jarige kêrel, Francois Baron, betrokke, waarna sy hom met ‘n mes doodgesteek het. Sy het Maandag 18 Mei vir die moord op Baron in die hof verskyn.
Op Sondagoggend 17 Mei om 01:00 is ‘n 43-jarige man in Hoofstraat by Steenberg’s Cove, St. Hele- nabaai, met ‘n byl aangeval. ‘n Dossier vir poging tot moord is geopen.
Danzel Cupido (21) is Sondagoggend 17 Mei om 03:45 met ‘n steekwond aan die linkerkant van sy nek in Botterboomstraat, Darling, gevind. Die omstandighede rakende die moord word ondersoek. Nabhiel Oppelt (23) en Turston Mentoor (18) is vir die moord op Cupido aangekeer, en hul hofverskyning was op Dinsdag 19 Mei.
Pedro Thomas (39) het op Sondagaand 17 Mei die stadsaal van Riebeek-Wes se dak aan die brand gesteek. Hy is in hegtenis geneem. Die skade aan die dak beloop ongeveer R5 000, en sy hofverskyning was op Dinsdag 19 Mei.





