Met hierdie bitter koue, reën en stormwinde wat ons nou in die Wes-Kaap beleef, hoor ‘n mens dikwels iemand sê: “Ag, honde het mos dik velle en pelse, hulle is gemaak vir buite wees”. Dieselfde word soms van katte gesê: “Hulle sal self skuiling kry.” Maar die waarheid is dat baie mense nie besef hoe swaar hierdie winterweer vir honde én katte kan wees nie.

‘n Hond of kat se vel is in werklikheid baie dunner as dié van ‘n mens – by baie rasse net ‘n paar millimeter dik. Wat hulle wel het, is pels wat help om liggaamshitte vas te hou. Maar pels is nie ‘n waterdigte winterjas nie. Wanneer daardie pels natreën en ysige wind daaroor waai, verloor dit baie van sy isolasie. Dis amper soos wanneer ‘n mens met ‘n nat trui in die wind staan.

Katte is veral kwesbaar omdat baie mense dink hulle is onafhanklik genoeg om hulself te red. Hoewel katte dikwels skuiling soek onder motors, in motor-

huise of onder sinkplate, is hierdie plekke nie altyd veilig of warm genoeg nie. ‘n Nat, deurweekte kat verloor vinnig liggaamshitte. Klein katte, ouer katte en maer katte sukkel die meeste. Hulle kan maklik verkluim, veral as hulle vir ure in die reën vasgevang is.

Gee vir jou troeteldier ten minste 'n dik kombers in die koue. Foto: Hana Oliver | Unsplash
Gee vir jou troeteldier ten minste ‘n dik kombers in die koue. Foto: Hana Oliver | Unsplash

Met honde sien ‘n mens dieselfde ­probleem. Klein honde, ouer honde, korthaarrasse en maer honde kry gewoonlik die swaarste. Hulle liggame verloor vinnig hitte en baie begin bewe, krul styf op of raak stil en lusteloos.

Selfs groter honde sukkel wanneer daar dae lank nat koue en stormwinde is sonder ‘n droë, beskutte plek om te rus.

Hier in ons winterreëngebied sien ‘n mens dit duidelik. Die wind sny deur sinkhokke, oop erwe en gapings onder afdakke. Sementvloere raak yskoud. ‘n Hond wat op kaal sement of nat grond slaap, trek daardie koue direk in sy liggaam in. Hulle kan nie self nog ‘n kom-

bers gaan haal of ‘n deur oopmaak nie. Hulle is afhanklik van mense om raak te sien wanneer dit té koud raak.

Baie mense glo diere “raak gewoond” aan koue. Maar geen dier geniet dae van deurweekte koue en stormweer nie. Selfs diere wat sterk lyk, gebruik baie energie om warm te probeer bly. Dit put hul liggame uit, veral as hulle nie genoeg kos kry nie. Dis hoekom honde en katte in die winter dikwels meer kos nodig het.

Vir gesinne met beperkte middele hoef dit nie duur te wees om ‘n verskil te maak nie. ‘n Kartondoos met ‘n dik kombers in, op bakstene of hout gelig van die grond af, kan ‘n doeltreffende skuilplek vir ‘n kat wees.

Vir honde help ‘n droë hoek uit die wind, met karton, komberse of selfs ou klere om op te lê. ‘n Dik stuk plastiek of seil oor ‘n hok kan keer dat reën inslaan, maar daar moet steeds openinge wees vir vars lug.

Maak ook seker waterbakke bly skoon. Warm kosreste soos pap rys gemeng met veilige honde- of katkos kan help om ekstra energie te gee. Vermy egter gekruide kos, bene wat kan splinter, of kos wat bedorwe is.

Rondloperdiere het dit natuurlik die swaarste. As jy ‘n rondloperhond of kat in jou straat sien wat sukkel, kan selfs ‘n klein gebaar help. Sit ‘n kartondoos onder ‘n afdak, los ‘n ou kombers in ‘n beskutte hoek, of sit ‘n bak kos en water uit. Dit hoef nie mooi te wees nie, net droog en uit die wind.

Kyk ook altyd onder jou motor voordat jy wegtrek.

In koue weer kruip katte gereeld onder enjins of tussen bande in om warmte te soek. ‘n Klop op die enjinkap kan ‘n lewe red.

Dis belangrik om die tekens van koue­stres raak te sien. Bewe, lusteloosheid, stadig beweeg, opkrul in ‘n stywe bol of ongewone stilheid kan alles waarskuwingstekens wees.

As ‘n dier baie koud voel, probeer hom of haar stadig warm kry met droë komberse en soek hulp as dit nie help nie.

Met hierdie storms sien ‘n mens weer hoe kwesbaar diere eintlik is. Hulle voel koue, nat en ongemak net

soos ons, partykeer selfs erger, omdat hulle geen beheer oor hul omstandighede het nie. ‘n Bietjie ekstra sorg kan hierdie winter vir ‘n hond of kat die verskil beteken tussen swaarkry of oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 21 May 2026
    Weslander E-Edition – 21 May 2026

Gift this article