Die “moeder van Atlantis” het Dinsdag 2 Februarie die stryd teen die gevreesde koronavirus verloor.
Sybil McKinna-Petersen (70), oftewel Antie Sybil, soos sy alombekend was, sal onthou word vir haar bydrae om Atlantis en Suid-Afrika ’n beter plek onder die destydse apartheidsregering te maak, onthou Noël Williams.
Williams, wat destyds die burgemeester van Atlantis was, het saam met McKinna as vryheidsvegter gewerk.
“As ’n enkelouer en self met niks om op die tafel te sit nie, sou Antie Sybil haar laaste met mense deel,” vertel hy.
Williams sê hul twee se paaie het in 1980 gekruis met die stigting van die destydse Atlantis-inwonersvereniging.
“Die destydse apartheidsregering het mense wat nie hul skuld kon betaal nie, in die tronk gestop en hul water en elektrisiteit afgesny as hulle net ’n paar rand agter was. Mense is ook uitgesit as hulle nie kon byhou met huurgeld aan die owerhede nie,” vertel hy.
Dit is hier waar Antie Sybil in opstand teen die regering gekom het en soos goed uitgedra is, het sy dit gehelp terugdra.
Die vuurvreter McKinna het laatnag nog rondgeval om mense uit die gevangenis te kry en het gou in onguns by die regering verval, vertel Williams.
Volgens Williams het die Atlantis-inwonersvereniging ’n advieskantoor gehad en McKinna was die een wat inwoners se klagtes probeer oplos het. Sy het ook ’n groot bydrae gelewer om werkers wat onregverdig behandel is, te help, met die gevolg dat sy ’n groot rol in die stigting van die werkers-unies gespeel het.
“Die feit dat mense vandag nie meer opgesluit word vir skuld nie, is grootliks aan dié fenomenale vrou te danke, omdat sy gereeld die oud-regering en selfs die nuwe regering daaroor aangedurf het,” sê hy.
Williams vertel emosioneel hoe dié enkelma haar kinders grootgemaak en haar lewe as vrywillige werker sonder ’n salaris vir die gemeenskap opgeoffer het.
Antie Sybil laat vier kinders, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders agter en is Saterdag (6 Februarie) ter ruste gelê.




