“Ons gaan nie ophou betoog!” sê lede van Survivors Haven nadat die beskuldigde weer op 2 Desember verskyn het. Foto: Verskaf


Die 46-jarige voormalige rugbyafrigter van Mamre wat hom glo as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en sodoende slagoffers geteiken het, se oomblik van waarheid het aangebreek.

Die man en sy regsverteenwoordiger het tydens sy verskyning Donderdag 2 Desember die bewyse teen hom gesien nadat die saak reeds telkemale vir dié doel uitgestel is.

Die beskuldigde het aangevoer geen bewyse van dié dade bestaan nie en het gesê dit is net hoorsê. Die staat het egter die bewyse gekry wat vermoedelik aanvanklik van die elektroniese toestelle waarop beslag gelê is, verwyder is, en het die teendeel aan die landdros bewys. Die die saak is nou tot 9 Maart volgende jaar uitgestel.

Die man is op 29 Julie aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het.

Hy verskyn nou op vyf aanklagte van verkragting en talle van die besit en vervaardiging van kinderpornografie.

Die beskuldigde, wat reeds op R10 000 borgtog vrygelaat is, het glo sy personae gebruik om slagoffers te kry om onder meer eksplisiete foto’s van hulself aan hom te stuur.

Die jongste slagoffer het ná byna vier jaar die ys gebreek en haar ouers op Vadersdag vertel wat gebeur het.

Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-organisasie, wat die families en slagoffers ondersteun, is hulle bewus van nog slagoffers wat egter nie na vore wil kom nie.

“Ek wens die jongmeisies wil oopmaak, want dit kan net voordelig wees aangesien professionele berading beskikbaar is,” vertel Passenz.

Sy het opgewonde vertel dat die saak beslis nou momentum kry en hoop dat die verhoor nou kan begin.

Die beskuldigde is onder huisarres totdat die saak afgehandel is. Hy mag net sy woning vir werk verlaat, om begrafnisse by te woon of in die geval van ’n mediese noodgeval, maar sal telkens eers die ondersoekbeampte oor sy bewegings moet inlig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article