Hy het as ’n held gesterf, sê buurtwaglede van Darling nadat die Tristan Korah (19) Saterdagaand 29 Januarie vermoor is.
Dié graad 11-leerder van Saxon Sea Sekondêr is dood terwyl hy Darling ’n veiliger plek wou maak, sê sy ma, Helerika Korah.
Leerders en klasmaats van Tristan is steeds geskok nadat die nuus oor sy sinnelose dood versprei is.
“Hy het altyd ’n smile op sy gesig gehad en het gereeld vertel hoe hy help om sy gemeenskap veilig te hou,” het een vriend gesê.
“Hou op jul kinders onder die bed wegsteek as die polisie hulle soek; hou op jul kinders in die kaste wegsteek as die polisie hulle soek,” het ds. André Botha ná Tristan se dood gesê.
Botha, van die VGK kerk in Darling, was Maandagaand (31 Januarie) een van die sprekers by ’n vreedsame betoging deur inwoners van die eens rustige Swartlandse dorpie nadat geweld in die dorp opgevlam het.
“Ons het toegelaat dat vreemdelinge ons dorp oorneem, en dit is net ons wat dit kan stop,” meen Botha. Twee jong mense is die afgelope maand vermoor terwyl nog een om sy lewe veg en ander beseer is ná verskeie voorvalle van geweld in die gebied. “Tristan is vermoor terwyl hy besig was om ons dorp en inwoners veilig te hou,” het Jacobus Damon, voorsitter van die Darling-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gesê.
Volgens Damon het Tristan, wat ’n passie vir sy gemeenskap gehad het, ’n minderjarige verdagte gejaag nadat ’n groep vroeër die aand met pangas onder mekaar amok gemaak het.
Hy wou die gevaarlike wapen van die 15-jarige afneem toe hy met ’n skerp voorwerp gesteek is.
Tristan is deur sy identifikasiekaart met sy gesigsfoto, wat op sy bors gehang het, gesteek, het Damon gesê.
“Tristan wou reeds van sy kinderdae af saam met lede van die buurtwag stap. Sy passie om ander te beskerm en te help, was aansteeklik,” vertel hy.
Volgens Tristan ma wou haar kind ná skool ’n polisieman word. “Hy het elke naweek saam met die buurtwag gestap en was ook die jongste lid van die buurtwag,” het Helerika gesê.
Die 15-jarige verdagte is weens die moord op Tristan aangekeer.. In nog voorvalle is ’n vrou dood ná ’n stryery tussen twee vroue waar die een die ander met ’n skerp voorwerp gesteek het.
. ’n Man, wat Vrydagaand in die bors geskiet is, veg steeds om sy lewe in die hospitaal, het sers. Johnatan Filander van Darling-polisie bevestig.


