Geregtigheid het uiteindelik geseëvier. Ondersteuners van Monique Isaacs wys hul blydskap nadat Aubrey Jooste weens ’n aanklag van onsedelike aanranding in 1998 vyf jaar tronk toe gestuur is. Foto: Murphy Roberts


Wat ’n ewigheid vir haar was het Donderdag (22 Julie) tot ’n einde gekom nadat die man wat haar as kind gemolesteer het, tronk toe gestuur is.

Aubrey Jooste (65) is Donderdag (22 Junie) op aanklag van onsedelike aanranding in 1998 vyf jaar tronk toe gestuur. Jooste is op ’n aanklag van verkragting onskuldig bevind.

Monique Isaacs, nou 31, vertel sy is baie verlig dat die man wat haar lewe “verwoes het”, vir sy dade betaal.

Landdros PW Da Rocha-Boltney het tydens vonnisoplegging gesê Jooste het tydens die verhoor geen berou gewys nie en die slagoffer as ’n moeilikheidmaker probeer uitsonder.

Volgens die klaer wou sy net hê hy moes verskoning vra en sy dade erken, maar hy het verkies om dit nie te doen nie, ten spyte van al die onderskeie maniere hoe hy dit wel kon doen, maar geweier het, het die landdros gesê.

Jooste het ter versagting aangevoer hy is ’n diabeet en kry angsaanvalle.

Die saak, wat byna 18 jaar gelede reeds aangemeld is, het nooit die Isaacs-familie ondergekry nie en hulle het met die wil vir geregtigheid voortgeveg.

Die saak is egter in 2009 van die rol geskrap omdat iemand volgens die familie “met die klaer se dagvaarding gepeuter” het, maar die familie het steeds volhard dat die saak weer op die rol moes kom. Dit is in 2015 – ná byna sewe jaar – weer op die hofrol geplaas.

Volgens Isaacs het alles begin toe sy ses jaar oud was en die beskuldigde, wat soos ’n vaderfiguur was en destyds ’n priester in die kerk was. “Hy en my ouers was huisvriende en ons woon twee huise van hulle af.”

Volgens Janine Passenz van die Survivors Have Foundation, wat Isaacs die afgelope tyd by die hof ondersteun het, is hulle tevrede met die vonnis.

“Ek dink as hy jonger was, sou hy gewis ’n swaarder vonnis gekry het, maar terwyl hy ná al die jare tronk toe is, dien dit ook as voorbeeld vir ander oortreders – veral dié wat ons veronderstel is om te vertrou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article