Veerpyltjies Suid-Afrika het die kolskoot vanaf die department van onderwys se Nelson Mandelabaai-distrik gekry om hulle 180+ Veerpyltjie-ontwikkelingsprogram by skole op Kariega en Despatch as buitemuurse sport te implementeer.
Vernon Human, voorsitter van die Nelson Mandelabaai-distrik Veerpyltjie-assosiasie sowel as by St Croix Veerpyltjie-assosiasie, sê hy is baie opgewonde oor dié besluit en dankbaar dat Veerpyltjies Suid-Afrika en die department van onderwys ‘n goeie ooreenkoms aangegaan het oor dié sport se rol in die onderwys.
“Veerpyltjies en wiskunde is onlosmaaklik van mekaar. In ’n breukdeel van ‘n sekonde moet jy kan optel, aftrek, maal, deel en op ‘n dubbel getal eindig. Van 300 af is jou brein permanent besig met syfers en somme maak,” sê Human.
“Dit is algemene kennis dat Suid-Afrika ‘n probleem het met wiskunde op skoolvlak. Veerpyltjies is ‘n baie gedissiplineerde sport en kinders besef nie dat hulle leer terwyl hulle speel nie.”
Volgens Human is dit nie net somme nie maar ook grafika en statistiek, soos hoeveel punte per veerpyltjie jy gemiddeld gedurende ‘n wedstryd aanteken, wat heeltyd in ‘n veerpyltjiespeler se kop in gedagte gehou moet word.
“Ek gaan dit waag om te sê met veerpyltjies kan jy amper meer geld maak as met rugby as jy professioneel en internasionaal speel. Twee naweke gelede is die Europese Meesters-kampioenskappe in Engeland gespeel en die wenner het met R3 miljoen weggestap.”
Die skole in Nelson Mandelabaai wat reeds ja gesê het vir veerpyltjies is Hoërskool Cillié, EduPlant Independent School, Hoërskool Despatch, en McCarthy Meerstromige Skool waar daar reeds in die wiskunde-klas ‘n veerpyltjiebord gebruik word om wiskunde-beginsels te verduidelik. John Walton, HTS Daniel Pienaar en Uitenhage Hoërskool is ook genader om die sport daar te begin.
“In Kaapstad by Mitchells Plain is daar al amper 1 000 leerlinge wat aan die veerpyltjie-program deelneem. In Gauteng het die program by skole vlamgevat en so ook by skole in Noord-Wes, en Kwa-Zulu Natal,” sê Human.
In ‘n amptelike memorandum het Ernest Gorgonzola, die department van onderwys se direkteur van die
Nelson Mandelabaai-distrik, aangedui dat die 180+ veerpyltjieprogram oor die potensiaal beskik om waarde tot leerders en skole toe te voeg.
“Ons grootste probleem is toerusting en ons doen ‘n beroep op mense wat veerpyltjieborde en pyltjies het wat hulle nie meer gebruik nie om dit aan die 180+ veerpyltjieprogram te skenk,” sê Human.
Volgens Human word veerpyltjie-toernooie sedert die pandemie die wêreld getref het al meer aanlyn aangebied en so kry spelers die kans om teen spelers van ander dorpe, provinsies en selfs regoor die wêreld kragte te meet.
“Al wat jy nodig het is ‘n goeie kamera en om in te skakel by die webtuistes webcamdarts.com of nakka.com en dan kan jy jou internasionale debuut vanuit jou eie huis of garage maak.
“Jy kry so af en toe daai ou wat kroek, maar dan word hy gou uitgehaal en hy sal nie weer op die groep toegelaat word nie.
- Vir meer inligting of skenking van veerpyltjieborde of -pyltjies, bel Vernon Human by 083 860 5393.





