Jaydon Burkett (naaslinks) in sy OP rolbalklere saam met sy familie (van links) pa Nicholas “Stumbo”, suster Ava, en ma Lizaan Burkett. INLAS: Jaydon Burkett na sy breinoperasie verlede jaar.

Foto: Verskaf

Ongeveer tien maande gelede is die Burkett-gesin van Kariega se leefwêreld tot stilstand geruk toe die sportiewe Jaydon (16) weens massiewe bloeding op die brein ’n nood-breinoperasie moes ondergaan.

“Die chirurg wat geopereer het, het vir ons gesê dat in al die jare wat hy praktiseer, hy nog nooit so massiewe breinbloeding gesien het wat nie fataal was nie,” sê Lizaan Burkett, Jaydon se ma.

Die neurochirurg, dr. Sajid Ansari, het ook na afloop van die operasie aan Jaydon se ouers gesê die massabloeding van 6,5 by 4,5 cm het sy brein met 1,5 cm geskuif.

“Daar was ’n moontlikheid dat Jaydon na die operasie newe-effekte soos epileptiese aanvalle kon ervaar. Maar dit was ’n absolute wonderwerk en met ons Hemelse Vader se genade het Jaydon se herstelproses vlot verloop. Daar is nie ’n dag wat verbygaan dat ons as gesin nie volkome dankbaar is nie.”

Jaydon het sy eerste kwartaal van graad 11 agter die rug met ’n uitstekende akademiese gemiddeld van 81 %. Alhoewel hy volgens die dokter se aanbeveling nie meer sy gunsteling sport, rugby, mag speel nie, blink hy uit in krieket, gholf, tennis en rolbal.

Jaydon is onlangs gekies vir die OP o.18 rolbalspan wat in Bloemfontein aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior Rolbal-kampioenskappe deelgeneem het. Jaydon se span het ’n brons-medalje gewen.

Volgens Jaydon was een van die moeilikste dinge vir hom om te weet hy gaan nooit weer rugby kan speel nie.

“As dit nie vir ander sportsoorte was nie, weet ek nie wat ek sou doen nie. Ek geniet sport en probeer altyd om net my beste op die sportveld te gee.

“Gholf het ’n groot plek in my hart omdat ek van kleins af saam met my pa en oupa gespeel het.

“Rolbal lê my ook na aan die hart. Dit is so lekker om kompeterend te kan wees in ’n sport wat die meeste fokus en geestelike inspanning moontlik verg.

“Ek is baie dankbaar vir die gawes en geleenthede wat oor my pad gekom het, sowel as vir my familie wat my deur elke liewe oomblik ondersteun,” sê Jaydon.

Hy gaan in Junie vir ’n opvolg MRI-skandering.

“Ons is ongelooflik trots op Jaydon en so dankbaar vir almal se gebede, ondersteuning en goedhartigheid,” sê Lizaan.

Jaydon Burkett in aksie vir die OP o.18 rolbalspan in Bloemfontein tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior Rolbal-kampioenskappe waar OP ’n bronsmedalje gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article