Twaalf fietsryers spring môre dou voor dag uit Kariega weg om op ‘n 705km sirkelroete deur die Langkloof en Karoo, via Graaff-Reinet om teen Sondag weer terug te keer met die hoop om genoeg fondse in te samel om 5 550 Bybels te skenk.
Dit is die tweede jaar wat die Ride4Bibles fietsryuitdaging deur Huis van Heerlikheid in samewerking met Fuel on Wheels gehou word .
Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels gaan weereens die voortou vat in dié uitmergelende uitdaging saam met 12 fietsryers en ‘n ondersteuningspan van 16 mense.
“Dit is ‘n taai roete, maar danksy al ons ondersteuners en borge behoort ons die roete in 60 uur agter die rug te kry en Sondag nog betyds vir kerk terug te wees op Kariega,” sê Oosthuizen.
Die roete is Kariega, Jeffreysbaai, Kareedouw, Joubertina, Uniondale, Willowmore, Aberdeen, Graaff-Reinet, Jansenville en al die pad terug Kariega toe.
Volgens pastoor Marius Swanepoel van Huis van Heerlikheid, kan fietsryers per kilometer geborg word of enige donasies is welkom om die mikpunt van 5 550 Bybels te haal.
Die bankbesonderhede vir donasies is: VEK Ebenhaeser Uitenhage, Nedbank, rekening 1277204187, bankkode 127 716 met die verwysing R4B plus die persoon wat die donasie maak se naam.
- Vir meer inligting bel pastoor Marius Swanepoel by 081 543 6307.




