Diewe is gister (Dinsdag 11 Oktober) deur ’n ander tipe corona platgetrek nadat hulle in Bellville met 216 bokse gesteelde bier gearresteer is.
Hulle sou dalk nog daarmee weggekom het, as hulle (of hul makkers) nie nog ook ’n kar gesteel het – of op kamera gevang is nie.
Die hele situasie het begin toe twee mans verlede Donderdag (6 Oktober) ’n kar vanuit ’n pakhuis in Montague Gardens gesteel het.
“Polisielede het inligting opgevolg en na die beeldmateriaal wat tot hul beskikking was, gekyk,” sê Sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisie-woordvoerder.
Hulle is toe na ’n huis gelei waar hulle gesien het hoe afleweringsvoertuie vragte afgelaai het.
Daarna het ’n hele groep verskillende polisie-eenhede saamgewerk, sê Twigg, insluitende misdaadintelligensie, die eenheid vir die diefstal van voertuie en die lede van die Bellville polisiekantoor.
Polisielede het by ’n drankwinkel in Strandweg in Bellville te werk gegaan en daar 216 bokse bier met ’n totale waarde van R600 000 gekonfiskeer.
Twee mans, onderskeidelik 27 en 36-jaar-oud, is gearresteer. Hulle sal op aanklagte van die besit van gesteelde items in die Bellville-landdroshof verskyn.
Die gesteelde motor is in Athlone gevind.





