Kloksgewys van links voor is André Roux, Niel Bester, Elsa Smuts, Ernst Vorndran en Susie Rademan.FOTO: Carina roux


In die kombuis agter die kerksaal by die NG kerk Kuilsrivier (Moedergemeente) gons en stoom dit al van vroeg op ’n Vrydagoggend.

Tussen die gesels deur word hier pannekoek gebak – en bestrooi, gerol en verpak – vir ’n vale. En vir ’n goeie doel.

Die geld wat met die verkope verdien word, ondersteun Aksie Samaritaan, ’n organisasie sonder winsbejag, se sopkombuis naby die Kuilsrivier-stasie.

Tussen die gereelde bakkers is Ernst Vorndran, ’n gemeentelid, maar ook voorsitter van Aksie Samaritaan (AS) – ’n gemeenskapsprojek waarby verskeie gemeentes en groepe betrokke is.

Die pannekoekbakkery is ’n gemeente-projek wat aanvanklik begin is as salaris-ondersteuning vir predikante wat in Mosambiek deur die seun van ’n predikant van die moedergemeente opgelei is, sê Vorndran.

Die oorspronklike span “bakkers” het goed geld gemaak en rente met beleggings verdien, maar het mettertyd ouer geword en wou dus afskaal. Vorndran het ’n geleentheid raakgesien.

“My skoonma het in daardie stadium hier gebak, (en) ek was toe voorsitter van Aksie Samaritaan. Ek het gesien hier is nou ’n kans vir ons om geld te maak – om geld in te kry sonder om te loop en bedel. In daardie stadium het elke kerk (betrokke by AS) so bietjie geskenk of af en toe ’n konsert gehou of so iets.”

Vorndran het besef hulle sou die sopkombuis met die pannekoek-verkope aan die gang kan hou. Die kerk het ingestem dat hulle elke Vrydag die kombuis kan gebruik en die projek is oorgeneem.

Dit was amper vyf jaar gelede. “Dit gaan goed,” sê Vorndran. In die somer is die verkope minder – “400 tot 500”, maar op ’n wintersoggend het hulle al tot 1 100 pannekoeke gebak en verkoop.

Om die traer somer-verkope te lig, het Vorndran die Nederlandse “Nationale Pannenkoekdag”, wat Vrydag 18 Maart gevier is, benut en vooraf pamflette oral uitgedeel om nuwe klante te lok. “Ek was verbaas hoeveel mense nie van ons weet nie. Sedert 1996 is nooit eintlik geadverteer nie.”

TygerBurger het op “Pannenkoekdag” gaan inloer om te kyk wat gebeur tydens “Operasie Pannekoek” in die kerk se kombuis.

Vorndran sê daar is gewoonlik ’n span van vier tot 10 wat vanaf 06:30 tot 11:00 “sterk aan die bak is”.

“In die winter kan dit rof gaan – tot 1 000 (pannekoeke) – dan bak ons tot 13:00.”

Die vorige dag is reeds ses 20 liter- emmers (120 liter ) deeg aangemaak vir die Vrydag. Deeg wat oorbly, kan gevries word, maar Vorndran sê dit moet dan met deeg wat vars aangemaak is, gemeng word.

Een emmer deeg is genoeg vir 100 pannekoeke.

Die grootmaat-resep word aangemaak met ’n eenliter-jogurthouer vol eiers eerder as ’n vaste aantal eiers, omdat eiers nie altyd ewe groot is nie.

Vorndran verduidelik hulle het ’n goeie stelsel om tred te hou met die bestellings wat inkom en die pannekoeke wat uitgaan.

Heila van Romburgh ontvang die bestellings. Sy skryf ’n kaartjie met ’n plakkertjie aan wat dan volgens tydsones (wanneer dit gereed moet wees) op die bord gaan.

“Ons bak, hulle strooi en rol, en verpak en trek dan die plakkertjie af,” sê Vorndran. Die plakker met die klant se naam en hoeveelheid pannekoeke word op die verpakking geplak, en dit word dan in ’n koelhouer gesit – gereed om afgehaal te word.

Gertie Norris, een van die ‘‘strooiers”, sê as mense bestellings plaas, hoef hulle nie vir hul pannekoek te wag nie. “Ons kry mense wat inloop; hulle moet wag. Ons probeer mense kry om te bestel, want dan kan ons dit beter beheer. Jy kan dan net jou pannekoek vat, betaal en loop.”

Vorndran sê as die bord met die bestellings leeg is, kan die bakkers begin ontspan. “Dan is dit die strooiers se werk om die res te verkoop.”

Die kaneelsuiker-strooiers ken ook al van die gereelde klante se geite en versoeke. Mans en kinders hou blykbaar eerder van soet, sommiges wil net kaneel hê, maar “plein” pannekoek is ook ’n opsie.

Jan Vorndran, Ernst se seun, wat ook weet hoe om pannekoek te bak, help met die aflewerings. Met die uitsondering van sommige nabygeleë gereelde klante en die ouetehuis is die perk vir aflewering ’n bestelling van 25 of meer pannekoeke. Jan sê hy het voorheen gehelp toe sy ouma daar was, en deesdae help hy sy pa. “Hier is so ’n lekker gees in die kombuis.”

Daarvan kan TygerBurger getuig – so glad soos die pannekoekdeeg van ’n opskeplepel in ’n pan vloei, so vloei die gesels.

Tussendeur hanteer elke bakker minstens twee panne op ’n slag. Selfs al is hy ’n man, kan hy darem twee panne hanteer, skerts Vorndran sr. “Ek het drie probeer, maar daai een bly bak.” Aksie Samaritaan-sopkombuis

AS is in 1996 begin en in 2000 as organisasie sonder winsbejag geregistreer. Vorndran sê ds. Johan Vollgraaff is eintlik aangestel om dié soort werk by die kerk te doen. “Hy is later La Belle toe en het as voorsitter bedank.”

Vorndran het toe voorsitter geword. “Ek is eintlik daarin geboelie, maar die Here het geweet wat Hy doen,” sê hy.

By die sopkombuis, ’n rooi skeepshouer met ’n afdak, word van Maandag tot Vrydag tussen 11:00 en 13:00 sop en brood aan 60 tot 80 mense uitgedeel. Sondae word ’n kerkdiens gehou, waarna ’n gekookte ete voorgesit word.

Vorndran is veral opgewonde oor die Sondagskool wat nou so 21 kinders het. “Ons is bevoorreg om ons jong, opkomende gesag se morele waardes reg te kry.”

Die voormalige predikant, ds.Vollgraaff, wat deesdae sy eie praktyk as berader het, hou weeksdae ’n ‘‘klein diens” voordat ete voorgesit word, sê Vorndran.

Tans is daar ’n opsigter en nog twee werkers by die sopkombuis. Vorndran sê aanvanklik is twee haweloses in diens geneem, maar mettertyd het hulle meer ongereeld gekom of glad nie opgedaag nie. “Ongelukkig moes ons hulle afdank.”

Nou is daar twee vrywilligers wat uithelp. “Die direksie – ons is ses lede – het besluit ons soek permanente mense wat verantwoordelik is en elke dag kan seker maak alles is altyd reg.”

Die skeepshouer is onlangs goed afgeskuur en oorgeverf nadat verf geskenk is.

Die Sondagskoolkinders het te veel geword vir gazebos en Vorndran het self ’n afdak opgesit.

Baie van die mense wat ’n maaltyd kom kry, kom uit die informele nedersetting, Donkerhoek, sê Vorndran. Ook van die werksoekers wat gereeld by Langverwacht staan, kom soontoe as die hoop op die kans om ’n dagloon te verdien, beskaam.

Die strooiers, van links Gertie Norris, Maureen Mecloen en Hannie Germishuys, is alles behalwe verstrooid.FOTO’S: carina roux

Chrissie (Chrisilene) Greeff klits ’n vars 20 liter-emmer pannekoekdeeg met ’n verfmenger. Greeff, inwoner van Donkerhoek en voorsitter van die Kuils River Homeless Association, is al met die oorspronklike pannekoekprojek betrek as gereelde helper in die kombuis.

Kloksgewys van links voor is André Roux, Niel Bester, Elsa Smuts, Ernst Vorndran en Susie Rademan.FOTO: Carina roux

Vorndran sê vroeër was AS betrokke by die Laerskool Kalkfontein, waar ’n onderwyser ekstra hulp vir leerders met fetale alkoholsindroom aangebied het.

“Ons het selfs naaldwerkklasse aangebied.”

Hy wil graag sien dat sulke aksies weer plaasvind, maar sê geld is ’n uitdaging.

By die sopkombuis self sou opleidingskamers en ’n kombuis welkome toevoegings wees.

AS het 18A-status en kan dus belastingsertifikate vir skenkings uitreik, sê Vorndran.

Tans maak meer as 200 mense op ’n rotasie-grondslag die sop wat weeksdae voorgesit word.

“Ons is so ses spanne by die moedergemeente alleen, en verskaf sop op ’n rotasiegrondslag, elke Vrydag. Die Suid-gemeente is Dinsdag en De Eike-gemeente Donderdag, twee Woensdae per maand is dit die La Belle-gemeente, een Woensdag die Agape-groep en die ander een (sommige maande twee Woensdae) is dit ’n saamgestelde groep – “ons noem hulle die aflosspan”.

’n Vrou verbonde aan ’n kerk in Engeland “wat so af en toe ook geld gee om salarisse te betaal”, maak een Maandag (elke maand) sop, terwyl die Community Church en die Digtebij-gemeente ook elk sop op ’n Maandag verskaf.

Elke dag word dus sowat 40 tot 50 liter sop deur mense by hul huise voorberei.

Vorndran sê dis lekker sop wat mense self by die huis sal eet.

“Alles is geskenk – hulle koop, kook en bring. Dit is hoe ons die sopkombuis kan laat werk.

“Ons moet net mense se salaris betaal.”

Plaas pannekoekbestellings voor Donderdag 20:00 per WhatsApp by 073 655 3816.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article