Die bekende kunstenaar Gavin du Plessis van Parow-Noord, wie se kunswerke verlede jaar oorsee uitgestal en verkoop is, is op Dinsdag 9 September oorlede.
Sy dood is verlede week deur sy vriend en raadgewer, past. Tony Sands van die Revive Worship Centre, bevestig.
Du Plessis, volgens Sands, is vreedsaam by Huis Uitsig in Parow-Noord, waar hy al jare ‘n inwoner was, oorlede. Hy was 73.
TygerBurger het verlede jaar oor Du Plessis berig toe sy kunswerke in Londen in Engeland uitgestal en verkoop is, (“Parow tot Londen”, 17/4/24).
Sy werk is ook by Kingsbridge Art in Bellville uitgestal. Sy werke in Londen is destyds aan ‘n anonieme koper verkoop.
Destyds is berig dat Du Plessis se kunsloopbaan in 1964 reeds begin het. Hy het aan die Kaapse Technikon skone kuns gestudeer met skilder as hoofvak, is berig.
Hy het daarna by die Croydon College of Design in Engeland gestudeer, waar hy teaterdekor en kostuumontwerp bestudeer het. Du Plessis het ook sosiaal-politieke kortverhale geskryf en het as kunsjoernalis vryskutwerk gedoen.
Sy stryd
Volgens Sands het hy vir 12 jaar na Du Plessis, wat ‘n lid is van sy kerk, help omsien.
“Toe ek hom ontmoet het, het hy met ‘n paar persoonlike kwessies geworstel.”
Sands sê Du Plessis het ‘n stryd gevoer teen alkoholisme, maar dat hy met behulp van kuns daaroor kon kom.
“Ons het gehelp sorg dat hy hom eerder met sy kuns besig hou.”
Hy sê Du Plessis was ongetroud en het geen kinders gehad nie.
Hy het Du Plessis se heengaan as hartseer beskryf. “Hy het siek geraak en kon vir ‘n rukkie nie skilder nie.”
Reuse-impak
Volgens Sands het Du Plessis ‘n reuse-impak gehad op ander.
“Sy kunswerke is in Londen verkoop en ook in die Sanlam-gebou in Bellville se galery uitgestal. Hy was ‘n kunstenaar wat buite die boks gedink het. Hy wou altyd ander metodes toets en het in talle van sy kunswerke ook sielkunde geïnkorporeer,” sê hy.
Sands sê Du Plessis is vreedsaam oorlede. “Ons het nog net voor sy afsterwe nagmaal met hom gedeel,” sê hy.
Sy gedenkdiens word vir Saterdag 20 September beplan.
Sands het gesê dat hulle beplan om later Du Plessis se kunswerke vir die publiek oop te stel. Du Plessis het ook van sy werke aan die NG kerk geskenk.





