Senior burgers van Parow is Dinsdagoggend by ‘n ontbyt ingelig oor hul regte, hoe hulle hul verhouding met hul kinders en kleinkinders moet hanteer en die verskillende vorms van mishandeling van ouer mense.
Die geleentheid is by die Spur-restaurant by die N1 Stad-winkelsentrum in Goodwood gehou, en is deur die twee nie-regeringsorganisasies Concerned Parents Association, waarvan Nikita Bezuidenhout die voorsitter is, en die Called to Serve-welsynstigting, waarvan Leann Nero die voorsitter is, aangebied.
Die sowat 25 seniors wat die oggend bygewoon het, is lede van die Happy Hearts Senior Club in Parow wat deur dié twee organisasies bestuur word.
Twee maatskaplike werkers van die Wes-Kaapse Department van Maatskaplike Dienste – Litessa Anthony en Leon Sebastian – het die groep toegespreek.
Verhoudinge
Anthony het uitgewei oor die verhouding tussen seniors en hul volwasse kinders.
“Dis baie swaar in vandag se era om ‘n ouma en oupa te wees. Dis nie meer die tyd wanneer jy net kon gaan sit het en jou kind bring vir jou ‘n koppie koffie nie. Deesdae moet daar vir koffie gevra word,” sê sy.
Sy het gesê ouer mense is baie nostalgies, maar het daarop gewys dat die tye baie verander het.
Sy sê oumense is nie noodwendig bang daarvoor om oud te word nie, maar vrees om alleen te wees. Sy het ook genoem dat baie kinders nie meer vandag hul ouers besoek nie, of tyd maak vir oumense nie.
“Ek sien daagliks die verskillende kwessies wat in ons gemeenskappe uitspeel.”
Anthony het ook genoem dat oupas en oumas lief is daarvoor om nuus oor hul kleinkinders te deel, maar gewaarsku dat hulle daarop moet ag slaan dat sommige seniors nie kleinkinders het nie, en alleen is.
Sy het ook genoem dat baie seniors vandag die rol van die ouer moet vertolk. In sommige gevalle, sê sy, sukkel oumas en oupas om die staatstoelae by die kind se ma en pa te kry, maar het beklemtoon dat die departement seniors in so ‘n geval kan bystaan.
“Ons kan briewe uitreik wat die staatstoelae na die ouers kanselleer,” sê sy. “As u kind nie die bankkaart vir die staatstoelae wil oorhandig nie, kan u ons nader en ons sal dit kanselleer en die toelae in u naam oordra.”
Anthony het gesê dat sommige seniors hul volwasse kinders nog bederf, maar beklemtoon dat bederf nie liefde is nie.
Sy sê volwassenes kan hul ouers op verskillende maniere mishandel.
“Ek sê nie jy moet nie jou kinders help nie, maar moet ook nie toelaat dat hulle jou mishandel nie.”
Anthony het gesê seniors moet eerder hul kinders onafhanklik laat leef.
Mishandeling
Sebastian het meer uitgewei oor die soorte mishandeling. Daar is fisieke, seksuele, emosionele en finansiële mishandeling, sê hy.
Sebastian het seniors aangemoedig om sulke gevalle aan te meld, of indien hulle weet van so ‘n geval, om die departement te kontak.
Hy het ook verduidelik oor hoe seniors kan aansoek doen vir tehuise, aangesien sommige seniors later in die lewe versorging benodig. Hy sê seniors kan ook private tehuise nader indien hulle dit kan bekostig.
Daar is ook beklemtoon dat seniors hul testament in orde moet kry om sodoende ‘n moontlike dispuut oor hul bates onder broers en susters te vermy. “As u bates het, moet u ‘n testament opstel om moeilikheid te vermy.”
Die seniors het ‘n ontbyt geniet wat deur die bestuur van Spur aan hulle gratis voorgesit is. Kobus Haasbroek, operateur, sê die gebaar is die restaurant se manier om seniors vir hul ondersteuning oor die jare heen te bedank.
LEES OOK: Seniors het baie bedrywige jaar





