Die Robertson Rangers-rugbyklub beplan ’n kanker-bewusmakingsveldtog en nooi lede van die gemeenskap om aan die beoogde bewusmakingsaksie gedurende ’n staptog wat Saterdag (22 Julie) sal plaasvind, deel te neem.
Die publiek word hartlik uitgenooi om by dié klublede en ondersteuners tydens die kankerbewusmakingsaamtrek aan te sluit wanneer hulle van Shoprite in die dorp na die Callie de Wet-sportterrein gaan stap.
Die stappers gaan om 08:30 agter Shoprite bymekaarkom en sal om 09:00 vertrek.
Die staptog draai links in Swellendamstraat, weer links in Piet Retiefstraat en dan regs in Kerkstraat. Daarna is dit reguit aan tot by die Callie de Wet-sportterrein waar ’n program met onder andere Kansa en Hospies as van die vername rolspelers sal volg.
“Die bewusmakingsveldtog het ten doel om diegene wat moedig teen die dodelike siekte veg, te herinner dat hulle nie alleen in hul stryd is nie.
“Ons sal julle bystaan, ondersteun en elke tree saam met julle stap op jul reis met hierdie siekte. Die kanker-staptog is ook ter nagedagtes aan diegene wat hul lewe as gevolg van kanker verloor het,” lui ’n plakkaat van die klub op die sosialemediaplatform Facebook.
In aanloop tot die optog bied die klub in samewerking met Carewell-hospitaal môre (Woensdag 19 Julie) ook ’n geselsprogram aan, wat deur Club Rugby Live uitgesaai sal word. Dit sal in die raadsaal van die Carewell-hospitaal geskied, waar dr. Ronel le Roux ’n praatjie oor kankerbewustheid op die program sal doen.
’n Verteenwoordiger van Kansa gaan ook as ’n gas aan die program deelneem.
Volgens Martin van As, die bemarkingshoof van Rangers, doen die klub hierdie aksie nie vir eie gewin of aansien in die gemeenskap nie, maar weens die feit dat kanker soveel hartseer en lewensverlies in gemeenskappe teweegbring.
“Ons het heelwat families en spelers wie se ouers in ’n kankerstryd is. Ek self het my ma en pa aan kanker verloor. Hierdie projek lê ons dus baie na aan die hart en ons bid dat dit ’n sukses sal wees.
“Ons klub wil ook op dié wyse `n bietjie terugploeg in die gemeenskap,” sê Van As.



