{"id":44016,"date":"2016-03-04T14:06:31","date_gmt":"2016-03-04T12:06:31","guid":{"rendered":"http:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/?p=44016"},"modified":"2016-03-04T14:27:56","modified_gmt":"2016-03-04T12:27:56","slug":"stervanger-slot-episode","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/","title":{"rendered":"Stervanger, SLOT-episode"},"content":{"rendered":"<p>Hy hardloop oor die gras rivier toe. Jama agterna. Hy gee nie om of hy nog sy nagklere aanhet nie.<\/p>\n<p>Hulle hardloop af met die rivierpad. Verby die rietbos met sy nuwe groen lote. Uitasem gaan sit hy by die rotse by die gruisgat. Jama kom lek aan sy gesig. Dan gaan sit hy regop langs Amo.<\/p>\n<p>Amo vee die sweet en trane van sy gesig af. Sy o\u00eb brand. Hy haat dit as jy tjank. Hy is nou te groot om te tjank. Hy het in hierdie graad sewe jaar te veel getjank.<\/p>\n<p>Hy is skielik nie meer lus om na Ventersdrif Ho\u00ebrskool te gaan nie. Hy wil nie h\u00ea Janus moet een van sy onnies wees nie. Miskien moet hy na die Engelse ho\u00ebrskool gaan waar Mamoeks skoolhou?<\/p>\n<p>Sy kop maal lank oor sy ma en Janus wat wil trou. Dit gaan alles verander, maak hy homself wys. S\u00ea nou sy ma raak liewer vir Janus as vir hom? S\u00ea nou sy ma en Janus kry \u2019n ander kind? Janus moet sy ma uitlos! Dit is sy ma!<\/p>\n<p>Hy stap terug tot by die watertoring. Die toring se leertjie klim hoog op in die lug. Toe hy klein was, het hy geglo hy kan saam met sy pa tot in die wolke klim. Tot verby die wolke tot by die sterre.<\/p>\n<p>Hy neem hom voor dat hy nooit sal toelaat dat Janus die watertoring uitklim nie. Die watertoring is sy pa se plek.<\/p>\n<p>Vandag is die dag wat ek weer die watertoring uitklim, besluit hy. Hy is kwaad vir Mamoeks. As hy hom vrek val, kan sy maar met Janus trou.<\/p>\n<p>Amo het nog nooit die treetjies van die dun metaalleertjie teen die watertoring op getel nie. Hy sal nog eendag, besluit hy. Vandag wil hy net klim.<\/p>\n<p>Mamoeks was woedend toe sy pa hom die eerste keer saam hom teen die toring laat uitklim het. \u201cJy is \u2019n uiters onverantwoordelike pa, Amos!\u201d het sy gegil. Amo het nie daarvan gehou as sy ma so met sy pa praat nie. Sy pa het dinge met hom gedoen wat ander pa\u2019s nooit sou doen nie. Lekker avonture. Vanaf die platform op die watertoring het sy pa hom elke moontlike sterrekonstellasie in die hemelruim bokant hulle plaas geleer. Sy pa het vir hom legendes en stories vertel. Teorie\u00eb verduidelik, gedigte voorgelees en saam hom op fantasievlugte gegaan.<\/p>\n<p>\u201cJy moet nooit toelaat dat die w\u00eareld jou in \u2019n boksie probeer indruk nie, Amo.\u201d Die w\u00eareld was te klein vir sy pa. \u201cDis hoekom ek so lief is vir die ruimte, Amo. Deur my teleskoop se lens kan ek reis waar ek wil. Plekke waar die mens nog nooit was nie. Daar tussen die sterre, kan mens drome vang. Jy moet net weet waarvoor om te kyk. Onthou altyd die storie van die Stervanger, sal jy?\u201d<\/p>\n<p>Amo wil nie altyd daaraan dink nie, maar sy ma en pa het partykeer baie baklei. \u201cAmos, dis nou tyd om groot te word. Jy het nou \u2019n kind.\u201d Mamoeks was lief vir sy pa, maar sy het gevoel hy moet rigting kry. Pa het die plaas ge\u00ebrf. Dit was eens \u2019n spog saaiplaas, maar Pa het van die landerye laat toegroei en groot dele van die plaas verhuur. \u201cTerug na die natuur,\u201d het hy aangekondig as die boere van die omgewing vrae vra. Hy het sy werk as navorser by die Noordwes-Universiteit verkies. Hy kon baie van sy werk op die plaas doen. Sy pa het plantkunde gedoseer en impakstudies oor die invloed van besoedeling op die Vaalrivier-gebied gedoen. Maar die astronomie was sy passie. Mamoeks was darem trots daarop dat sy pa as een van die groot sterrekenners in die land bekend was. So het hulle na sy pa se dood in die koerante geskryf. \u201cJou pa het nie ryk geword uit sy kennis nie, maar dit was sy passie,\u201d het Mamoeks een keer ges\u00ea.<\/p>\n<p>Amo se hande sweet teen die relings van die smal geroeste leertjie. Hy is nie bang nie. Al klim hy di\u00e9 keer sonder sy pa. Met \u2019n pa soos syne kon mens nie hoogtevrees gehad het nie. Bome, berge, die watertoring. Sy pa was lief vir klim. Hoe ho\u00ebr hoe beter.<\/p>\n<p>Die wind waai liggies. Ver af met die rivier hoor hy die visarend roep. Met elke treetjie kan hy verder oor die Koepel-gebied sien. Hy kyk ondertoe. Jama sit geduldig onder en wag. Die planke op die platform raak al effens verweerd, sien Amo. Seker van al die baie re\u00ebn. Hy probeer onthou hoe lank is dit sedert sy pa die platform die laaste keer versterk het. Sy pa is al drie jaar dood.<\/p>\n<p>\u201cWaaraan is jou pa dood?\u201d het Jessie een keer gevra. \u201cAan sy hart,\u201d kon Amo met alle eerlikheid antwoord want Mamoeks s\u00ea altyd Pa is dood aan \u2019n gebroke hart. Hy het sy ma al uitgevra oor hoe dit gekom het dat sy pa se hart gebreek is en al hoe Mamoeks dit kon verduidelik, was dat party mense met \u2018n gebreekte hart gebore word. Mens noem dit depressive, het sy ges\u00ea.<\/p>\n<p>\u201cJy moet nooit dink jou pa was \u2018n swakkeling omdat hy nie meer van die lewe gehou het nie, Amo. Vir party mense is dit net moeiliker om al die dinge van die lewe te hanteer.\u201d Amo het al gehoor sy ma s\u00ea vir sy ouma: \u201cAmos was te sensitief vir hierdie w\u00eareld. Partykeer dink ek dit is oor hy so super slim was. Hy het anders na dinge gekyk.\u201d<\/p>\n<p>Amo het sy ma al baie gevra of depressie aansteeklik kan wees. Sy ma het verduidelik hoe bipol\u00eare depressie werk. Sy het vertel van die wipplank van sy pa se emosies. Partykeer was sy pa baie bly oor die lewe. Ander kere baie hartseer. Sy pa het selde emosies in die middel gehad. Of bo, of onder. Ekstreme.<\/p>\n<p>\u201cDaar was \u2019n chemiese wanbalans in Pappa se brein.\u201d Sy ma het verduidelik dat mens pille daarvoor kan gebruik, maar dat sy pa soms so verdiep geraak het in sy werk dat hy van die pille vergeet het. Dan het sy pa baie moeg vir die lewe geraak.<\/p>\n<p>Amo weet dat al was Mamoeks partykeer baie kwaad vir sy pa, het sy baie gehuil na sy dood. \u201cEk was bitter baie lief vir jou pa, jy moet dit altyd onthou. Jou pa was \u2019n baie spesiale mens. Te slim en te sensitief vir hierdie w\u00eareld.\u201d So het Mamoeks na sy pa se roudiens vir hom ges\u00ea. Nou wonder hy of sy ma net so \u201cbitter lief\u201d vir Janus is. Dit sal nie regverdig wees nie. Sy ma het sy pa eerste liefgehad.<\/p>\n<p>Amo trek sy knie\u00eb op tot onder sy ken. Die wind waai sterk hier op die platvorm. Dit gaan seker weer re\u00ebn, dink hy. Hy is nie bang die wind sal hom af waai nie.<\/p>\n<p>Hy vryf met sy hand oor die plek waar sy pa hulle name met sy knipmes uitgekerf het: Amos en Amo 2010. Dit was die jaar toe sy pa die klein platform vir die teleskoop gebou het.<\/p>\n<p>Onder hom kronkel die Vaalrivier blou deur die groen valleie. Skuins bokant hom sirkel \u2019n valk. Hy het seker \u2019n muis in die rietbos in die oog, dink Amo. Hy wonder wat sy pa sit en dink het as hy hier bo kom sit het. Hy het ure aaneen in die dag hier gesit. En partykeer die hele nag lank saam met sy teleskoop op die toring deurgebring.<\/p>\n<p>Hy wonder wat sy pa daardie dag van sy dood gedink het.<\/p>\n<p>Hy het homself al wysgemaak die wind het seker sterk gewaai. Baie sterk. So \u2019n sterk wind kan mens maklik af waai. Kon dit die wind wees?<\/p>\n<p>Hier op die platform het sy pa hom vertel van die tent wat hy nog eendag in die melkweg gaan opslaan. \u201cDaar was een keer \u2019n ou wat daaroor in \u2019n liedjie gesing het. Sy naam was Koos du Plessis. Daardie ou het die lewe verstaan. Hy het geweet \u2019n mens sal gelukkig kan wees in so \u2019n tentjie,\u201d so het sy pa vertel. Toe speel sy pa een keer vir hom Koos du Plessis se liedjie. Dit is \u2019n baie hartseer liedjie.<\/p>\n<p>Jama begin blaf en sirkels om die pilare van die toring hardloop. Na \u2019n rukkie sien Amo wat hom pla. Dis daardie simpel Kurt-hulle. Hulle kom met die rivierpaadjie afgeloop.<\/p>\n<p>Amo hoop nie Kurt-hulle sien hom hier bo nie. As Mamoeks hoor hy het die toring uitgeklim, sal sy dit laat afbreek. Sy het hom laat belowe hy sal nooit ooit weer hier opklim nie, maar vandag het hy dit nodig gehad. Hy wou nader aan sy pa voel. Hier bo kan hy sy pa se lyf teen hom voel.<\/p>\n<p>\u2019n Harde fluit onderbreek sy gedagtes. Ffuitttttt!<\/p>\n<p>\u201cWat maak jy daar bo, Breins?\u201d<\/p>\n<p>\u201cLos my uit!\u201d gil Amo ondertoe.<\/p>\n<p>\u201cKan ons opklim?\u201d Jaco staan nou by die onderkant van die leertjie.<\/p>\n<p>\u201cDis gevaarlik! Julle gaan julle dood val!\u201d Amo begin bewe. Hy voel vasgekeer. As een van hulle val, sal Mamoeks beslis die toring laat afbreek.<\/p>\n<p>\u201cAsseblief, bly daar onder, ek klim af!\u201d Amo begin bewerig die trappies afklim. Hy weet hy moet nou konsentreer soos nog nooit in sy lewe nie. Sy pa het hom dit geleer. \u201cAmo, jy moet konsentreer as jy die leertjie klim. Maak seker jy voel elke trappie onder jou voet voor jy die volgende voet beweeg. Los eers die een hand. Dan die ander. Luister jy, Amo? Jy moet dit nooit vergeet nie.\u201d<\/p>\n<p>Jama blaf nou verwoed onder die toring. Amo wil nie afkyk nie, maar hy is seker iemand probeer opklim.<\/p>\n<p>\u201cAsseblief julle! Ek kom af! Moenie opklim nie! Ek smeek julle!\u201d<\/p>\n<p>Amo voel die trane agter sy o\u00eb brand. \u201cKonsentreer, Amo, jy moet konsentreer,\u201d hoor hy sy pa se stem hier naby hom. Sy hande sweet om die relings. Eers die een voet, dan die ander, die een voet, dan die ander. Hy voel die wind waai sterker. Onder blaf Jama onopoudend. Amo voel sy lyf bewe. Hy mag nie bewe nie, dan gaan hy sy konsentrasie verloor. \u201cBly nou kalm, Amo, haal diep asem.\u201d Sy pa se stem is so sag soos die wind.<\/p>\n<p>\u2019n Klip tref hom teen die rug. Ver onder hom hoor hy iemand lag.<\/p>\n<p>\u201cWag nou ouens! Netnou val hy!\u201d Amo is nie seker wie se stem dit is nie. Hy dink dis Jaco.<\/p>\n<p>Nog \u2019n klip tref hom. Dit pyn laat sy bene bewe. Die damwal agter sy o\u00eb bars.<\/p>\n<p>\u201cAsseblief! Asseblief! Los my! Ek gaan val!\u201d<\/p>\n<p>\u201cTjankbalie!\u201d Wie se stem is dit? Hy weet nie meer nie.<\/p>\n<p>\u201cLos hom nou julle ouens. Hy kan hom dood val!\u201d<\/p>\n<p>Is dit Jaco? Iemand lag weer. \u2019n Klip tref hom teen die been, hy trap mis sy voete gly.<\/p>\n<p>\u201cHou vas soos nog nooit in jou lewe nie, Amo. Hou vas! Ek kom!\u201d Hy is nie seker of dit sy pa se stem is nie. Sy bene trap paniekbevange in die lug rond. Hy hoor gille, maar weet nie of dit sy eie is nie. \u201cKonsentreer, Amo, konsentreer. Moenie bang raak nie, dan gaan jy val. Raak kalm. Ek is nou daar.\u201d Wie se stem is dit? Pa? Is jy hier? Amo voel \u2019n hand om sy lyf.<\/p>\n<p>\u201cKalm nou. Ek is hier. Sit nou eers jou een voet op die trappie. Nou die ander een. Moenie bang wees nie, ek is hier. Jy sal nie val nie.\u201d<\/p>\n<p>Jama blaf verlangs. Dit voel of Amo sweef. Miskien het hy al geval en hy weet dit nie. Dalk droom hy net iemand help hom by die trappe af? Hy kan nie meer sy hande voel nie. Sy brein stuur bevele na sy voete, maar hy weet nie of sy voete dit gehoorsaam nie.<\/p>\n<p>Hy voel nie meer die trappe nie. Die hande om sy lyf is weg. Hy hoor nie meer sy pa se stem nie. Dis stil om hom. Hy sweef op \u2019n vlieswolk deur die lug.<\/p>\n<p>\u201cAmo? Amo?\u201d kan jy my hoor. Die stem is baie ver asof hy dit deur \u2018n lang tonnel hoor. Hy hoor iemand langs hom bid. Dis nie Juffrou Alta nie. Dis Janus! Hy is seker hy droom. Hoekom sal Janus vir hom bid? Die stem kom al nader.<\/p>\n<p>\u201cHy is nog net \u2019n laaitie, Here. Asseblief, spaar hom.\u201d Janus se stem is skielik hier naby hom. Hoekom moet God hom spaar? wonder hy. Dit is dan so lekker op die wolkie hier waar hy sweef. Eers kan hy niks onder op die aarde sien nie. Dan knip hy sy o\u00eb. Hy sien die watertoring en die rivier. Hy sien Jama rondhardloop in sirkels. Daar onder hurk Janus by iemand. Dis \u2019n seun. Hy l\u00ea op die gras. Hy l\u00ea baie stil. Amo wonder hoekom die seun so stil l\u00ea.<\/p>\n<p>Amo kan nie onthou hoe hy van die wolkie af gekom het nie. Hy word wakker op \u2019n hospitaalbed. Is hy dan nou by Jessie in die kliniek? Dan onthou hy Jessie bly nou by die Suiderkruis.<\/p>\n<p>\u201cAmo!\u201d Hy hoor Mamoeks se stem. \u201cSy o\u00eb is oop, Janus! Hy is wakker!\u201d<\/p>\n<p>Janus praat iewers in die kamer.<\/p>\n<p>Die volgende paar uur word hy \u2018n paar keer wakker. Sy ma is elke keer by hom.<\/p>\n<p>\u201cJy is in die hospitaal, Amo. Jy het van die watertoring af geval. Gelukkig was jy al meer as halfpad onder toe anders was jy dood.\u201d<\/p>\n<p>Amo probeer voel of hy nog sy tone kan beweeg. Miskien verbeel hy hom, maar hy voel hulle. Sy een arm is vasgemaak.<\/p>\n<p>\u201cL\u00ea stil jong, jy het jou arm baie sleg gebreek en jy het kwaai harsingskudding. Jy was van gister af in en uit droomland.\u201d<\/p>\n<p>Amo sien sy ma lyk vreeslik moeg. Hy onthou hoe hy by die huis uitgestorm het in sy nagklere. Hy onthou hoe hy op die toring gesit het. Kurt-hulle was onder die toring. Hulle het hom met klippe gegooi.<\/p>\n<p>\u201cEk is jammer ek het die toring uitgeklim, Mamoeks. Regtig jammer. Moet dit asseblief nie afbreek nie. Asseblief.\u201d<\/p>\n<p>Sy ma soen hom op die voorkop.<\/p>\n<p>\u201cOns sal dit nie afbreek nie. Ek ken iemand wat \u2019n plan het om die leertjie veilig te maak. Hy s\u00ea mens kan relings om die plafon bou en dan kan jy soveel keer daar sterre kyk as wat jy wil.\u201d<\/p>\n<p>Amo wil nog vra wie die plan uitgedink het, maar eintlik vermoed hy klaar wie dit is. Janus kom staan langs Mamoeks.<\/p>\n<p>\u201cSal jy dan saam my opklim, Janus? Of is jy te bang?\u201d<\/p>\n<p>\u201cEk? Nooit! Ek het nie \u2019n bang haar op my kop nie!\u201d<\/p>\n<p>Amo voel baie skuldig oor hy sy ma so groot laat skrik het. \u201cJy kan maar met Mamoeks trou, Janus. Jy hoef nie die toring reg te maak om my om te koop nie.\u201d<\/p>\n<p>Janus glimlag breed.<\/p>\n<p>\u201cEk jou omkoop? Lyk ek soos iemand wat jou wil omkoop? Wraggies?\u201d<\/p>\n<p>\u201cJa, wraggies!\u201d<\/p>\n<p>Janus en Amo lag.<\/p>\n<p>\u201cIs daar iets snaaks hier wat ek nie verstaan nie,\u201d vra Mamoeks.<\/p>\n<p>\u201cNee ons het wraggies nie \u2019n idee wat so snaaks kan wees nie,\u201d s\u00ea Janus en hulle lag so dat Amo se kop begin pyn.<\/p>\n<p>Later die middag vra Mamoeks hom uit oor wat by die toring gebeur het.<\/p>\n<p>\u201cEk was kwaad en toe gly ek. Dis al.\u201d<\/p>\n<p>\u201cIs jy seker? Wat het Kurt-hulle daar gemaak?\u201d<\/p>\n<p>\u201cHoe weet julle Kurt-hulle was daar?\u201d<\/p>\n<p>\u201cHulle het ons by die huis kom roep. Hulle was histeries toe jy geval het.\u201d<\/p>\n<p>\u201cO, hulle wou opklim, toe keer ek hulle. Toe val ek.\u201d<\/p>\n<p>Amo is nie seker of sy ma hom glo nie, maar hy is nie \u2019n klikbek nie. Hy is nie lus vir \u2019n hele drama met Kurt-hulle nie.<\/p>\n<p>Amo is bly hy kan die volgende dag huis toe gaan. \u201cDie dokters is tevrede dat jou brein nie meer te erg geskommel is nie,\u201d spot Janus.<\/p>\n<p>\u201cDis oor \u2019n week die graad sewe-afskeid. Ons moet nog vir jou mooi klere gaan koop.\u201d Amo is nie so baie opgewonde oor sy ma se aankondiging nie. Hy is steeds bang hy moet langs Sanet of \u2019n ander meisiekind sit.<\/p>\n<p>Hy is skaars \u2019n dag by die huis of Mamoeks kondig aan hy het \u2019n besoeker. Dis Kurt. Hy staan senuweeagtig in Amo se kamer rond.<\/p>\n<p>\u201cIs hierdie jou sterre-goed?\u201d Hy wys na al die plakkate.<\/p>\n<p>Amo knik net selfbewus. Maar dan skep hy moed. \u201cEn daar is my teleskoop waarvan ek jou vertel het.\u201d<\/p>\n<p>\u201cSo jy is regtig mal oor die ruimte-goed?\u201d<\/p>\n<p>\u201cJa, ek wil eendag nog op \u2019n ruimtereis gaan. Met \u2019n ruimtetuig.\u201d<\/p>\n<p>Kurt gee \u2019n selfbewuste laggie.<\/p>\n<p>\u201cDan hoef jy nie meer met \u2019n <em>crash-helmet<\/em> op \u2019n fiets te jaag nie.\u201d<\/p>\n<p>\u201cJy is reg, dan gaan ek met \u2019n regte ruimtetuig deur die sterre jaag.\u201d<\/p>\n<p>Kurt kom staan naby sy bed.<\/p>\n<p>\u201cDankie dat jy nie op ons gesplit het nie. Oor die ding by die toring. Ek is jammer my ou. Ek het baie gesit en dink toe jy in die hospitaal was. Ek moet my nonsens nou laat staan. Ek gaan volgende jaar by die ho\u00ebrskool \u2019n goeie ou wees, jy sal sien.\u201d<\/p>\n<p>\u201cAg ou Kurt, jy is darem nie so \u2019n slegte ou nie.\u201d<\/p>\n<p>\u201cToe ek weggeloop het, het jy ook nie op my gesplit nie. Jy is \u2019n ware tjomma.\u201d<\/p>\n<p>Amo is nie seker of hy Kurt di\u00e9 keer moet glo nie. Dit sal lekker wees as hy Kurt se Tjomma is en hy nie meer elke keer in die bus moet koes vir sy gedugte skouerstampe nie.<\/p>\n<p>&nbsp;<\/p>\n<p style=\"text-align: center;\">XXX<\/p>\n<p>DIE eerste dag by die skool bloos Amo weer bloedrooi oor al die aandag. Hy hou niks daarvan nie. Sanet kom sit \u2019n sjokolade met \u2019n briefie voor hom neer. \u201cBly jy is ok! X\u201d Hy staar na die X. Hy weet wat dit beteken as \u2019n meisie \u2019n X onderaan \u2019n briefie maak. Hy druk die briefie vinnig in sy sak.<\/p>\n<p>By die busstop tussen hulle plase, vra Kurt of hy die middag saam met hulle wil kom fiets ry.<\/p>\n<p>\u201c<em>Sure<\/em>, hoe laat?\u201d<\/p>\n<p>\u201c<em>Check<\/em> jou vieruur.\u201d<\/p>\n<p>Hy haal die middag kort-kort Sanet se briefie uit sy sak. Wat het die meisiekind besiel om vir hom \u2019n sjokolade voor al die ander kinders te gee? En die X? Is sy laf?<\/p>\n<p>\u201cMamoeks? Wanneer gaan ons die graad sewe-afskeid se klere koop?\u201d<\/p>\n<p>\u201cO? Sien jy skielik uit na die afskeid? Ek hoor julle gaan langs meisies sit?\u201d<\/p>\n<p>\u201cAg Ma, ek vra maar net. Is dit ok as ek en Kurt-hulle vanmiddag gaan fiets ry? Ek is mos nou ok?\u201d<\/p>\n<p>Hy sien sy ma wil eers keer. Dan spring Janus sy ma voor.<\/p>\n<p>\u201cEk is seker jy sal ok wees!\u201d<\/p>\n<p>\u201cWraggies?\u201d Hy en Janus lag weer en hulle geniet dit dat Mamoeks nie \u2019n idee het waaroor hulle lag nie.<\/p>\n<p>Vieruur fluit Kurt onder by die voordeur. Jama blaf.<\/p>\n<p>\u201cAmo! Jou maats is hier!\u201d roep sy ma van onder af.<\/p>\n<p>Kurt, Jak en Jaco het elkeen \u2019n valhelm op hulle koppe.<\/p>\n<p>\u201cToe, Breins, gaan haal joune. Ons wil nie jou breins verder skommel nie.\u201d<\/p>\n<p>\u201cGraad sewe was \u2019n moeilike jaar,\u201d vertel Amo daardie aand vir sy pa en Jessie toe hy op die Suiderkruis fokus. \u201cMaar as ek graad sewe kon oorleef, gaan ho\u00ebrskool \u2019n <em>breeze<\/em> wees. Bietjie ho\u00ebr op van die Suiderkruis, sien hy \u2019n ster verskiet.<\/p>\n<p>Hy hoop die Stervanger het dit ook gesien. Mens moenie drome verlore laat gaan nie.<\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Hy hardloop oor die gras rivier toe. Jama agterna. Hy gee nie om of hy nog sy nagklere aanhet nie. Hulle hardloop af met die rivierpad. Verby die rietbos met sy nuwe groen lote. Uitasem gaan sit hy by die [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":8,"featured_media":19700,"comment_status":"open","ping_status":"open","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"_acf_changed":false,"footnotes":""},"categories":[43452],"tags":[3230,3378,3379],"class_list":["post-44016","post","type-post","status-publish","format-standard","has-post-thumbnail","hentry","category-lees","tag-vervolgverhale","tag-fiksie","tag-stervanger"],"acf":[],"yoast_head":"<!-- This site is optimized with the Yoast SEO plugin v28.6 - https:\/\/yoast.com\/product\/yoast-seo-wordpress\/ -->\n<title>Stervanger, SLOT-episode | rooi rose<\/title>\n<meta name=\"robots\" content=\"index, follow, max-snippet:-1, max-image-preview:large, max-video-preview:-1\" \/>\n<link rel=\"canonical\" href=\"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/\" \/>\n<meta property=\"og:locale\" content=\"en_US\" \/>\n<meta property=\"og:type\" content=\"article\" \/>\n<meta property=\"og:title\" content=\"Stervanger, SLOT-episode | rooi rose\" \/>\n<meta property=\"og:description\" content=\"Hy hardloop oor die gras rivier toe. Jama agterna. Hy gee nie om of hy nog sy nagklere aanhet nie. Hulle hardloop af met die rivierpad. Verby die rietbos met sy nuwe groen lote. Uitasem gaan sit hy by die [&hellip;]\" \/>\n<meta property=\"og:url\" content=\"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/\" \/>\n<meta property=\"og:site_name\" content=\"rooi rose\" \/>\n<meta property=\"article:publisher\" content=\"https:\/\/www.facebook.com\/rooirose\/\" \/>\n<meta property=\"article:published_time\" content=\"2016-03-04T12:06:31+00:00\" \/>\n<meta property=\"article:modified_time\" content=\"2016-03-04T12:27:56+00:00\" \/>\n<meta property=\"og:image\" content=\"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg\" \/>\n\t<meta property=\"og:image:width\" content=\"850\" \/>\n\t<meta property=\"og:image:height\" content=\"476\" \/>\n\t<meta property=\"og:image:type\" content=\"image\/jpeg\" \/>\n<meta name=\"author\" content=\"Michelle Nortje\" \/>\n<meta name=\"twitter:card\" content=\"summary_large_image\" \/>\n<meta name=\"twitter:creator\" content=\"@rooi_rose\" \/>\n<meta name=\"twitter:site\" content=\"@rooi_rose\" \/>\n<meta name=\"twitter:label1\" content=\"Written by\" \/>\n\t<meta name=\"twitter:data1\" content=\"Michelle Nortje\" \/>\n\t<meta name=\"twitter:label2\" content=\"Est. reading time\" \/>\n\t<meta name=\"twitter:data2\" content=\"16 minute\" \/>\n<script type=\"application\/ld+json\" class=\"yoast-schema-graph\">{\"@context\":\"https:\\\/\\\/schema.org\",\"@graph\":[{\"@type\":\"Article\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#article\",\"isPartOf\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/\"},\"author\":{\"name\":\"Michelle Nortje\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#\\\/schema\\\/person\\\/5e2ea2899ffb0152930df78c23d3dddd\"},\"headline\":\"Stervanger, SLOT-episode\",\"datePublished\":\"2016-03-04T12:06:31+00:00\",\"dateModified\":\"2016-03-04T12:27:56+00:00\",\"mainEntityOfPage\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/\"},\"wordCount\":3250,\"commentCount\":0,\"publisher\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#organization\"},\"image\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#primaryimage\"},\"thumbnailUrl\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2016\\\/01\\\/Stervanger-e1457513531806.jpg\",\"keywords\":[\"vervolgverhale\",\"fiksie\",\"stervanger\"],\"articleSection\":[\"Lees\"],\"inLanguage\":\"af-ZA\",\"copyrightYear\":\"2016\",\"copyrightHolder\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#organization\"}},{\"@type\":\"WebPage\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/\",\"url\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/\",\"name\":\"Stervanger, SLOT-episode | rooi rose\",\"isPartOf\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#website\"},\"primaryImageOfPage\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#primaryimage\"},\"image\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#primaryimage\"},\"thumbnailUrl\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2016\\\/01\\\/Stervanger-e1457513531806.jpg\",\"datePublished\":\"2016-03-04T12:06:31+00:00\",\"dateModified\":\"2016-03-04T12:27:56+00:00\",\"breadcrumb\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#breadcrumb\"},\"inLanguage\":\"af-ZA\",\"potentialAction\":[{\"@type\":\"ReadAction\",\"target\":[\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/\"]}]},{\"@type\":\"ImageObject\",\"inLanguage\":\"af-ZA\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#primaryimage\",\"url\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2016\\\/01\\\/Stervanger-e1457513531806.jpg\",\"contentUrl\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2016\\\/01\\\/Stervanger-e1457513531806.jpg\",\"width\":850,\"height\":476,\"caption\":\"Stervanger, SLOT-episode\"},{\"@type\":\"BreadcrumbList\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/stervanger-slot-episode\\\/#breadcrumb\",\"itemListElement\":[{\"@type\":\"ListItem\",\"position\":1,\"name\":\"Home\",\"item\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/\"},{\"@type\":\"ListItem\",\"position\":2,\"name\":\"Stervanger, SLOT-episode\"}]},{\"@type\":\"WebSite\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#website\",\"url\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/\",\"name\":\"rooi rose\",\"description\":\"Stylvol, sinvol, propvol\",\"publisher\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#organization\"},\"potentialAction\":[{\"@type\":\"SearchAction\",\"target\":{\"@type\":\"EntryPoint\",\"urlTemplate\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/?s={search_term_string}\"},\"query-input\":{\"@type\":\"PropertyValueSpecification\",\"valueRequired\":true,\"valueName\":\"search_term_string\"}}],\"inLanguage\":\"af-ZA\"},{\"@type\":\"Organization\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#organization\",\"name\":\"Rooi rose\",\"url\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/\",\"logo\":{\"@type\":\"ImageObject\",\"inLanguage\":\"af-ZA\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#\\\/schema\\\/logo\\\/image\\\/\",\"url\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2020\\\/12\\\/rrlogo.jpg\",\"contentUrl\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/wp-content\\\/uploads\\\/2020\\\/12\\\/rrlogo.jpg\",\"width\":400,\"height\":400,\"caption\":\"Rooi rose\"},\"image\":{\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#\\\/schema\\\/logo\\\/image\\\/\"},\"sameAs\":[\"https:\\\/\\\/www.facebook.com\\\/rooirose\\\/\",\"https:\\\/\\\/x.com\\\/rooi_rose\"]},{\"@type\":\"Person\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/novanews.co.za\\\/rooirose\\\/#\\\/schema\\\/person\\\/5e2ea2899ffb0152930df78c23d3dddd\",\"name\":\"Michelle Nortje\",\"image\":{\"@type\":\"ImageObject\",\"inLanguage\":\"af-ZA\",\"@id\":\"https:\\\/\\\/secure.gravatar.com\\\/avatar\\\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g\",\"url\":\"https:\\\/\\\/secure.gravatar.com\\\/avatar\\\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g\",\"contentUrl\":\"https:\\\/\\\/secure.gravatar.com\\\/avatar\\\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g\",\"caption\":\"Michelle Nortje\"}}]}<\/script>\n<!-- \/ Yoast SEO plugin. -->","yoast_head_json":{"title":"Stervanger, SLOT-episode | rooi rose","robots":{"index":"index","follow":"follow","max-snippet":"max-snippet:-1","max-image-preview":"max-image-preview:large","max-video-preview":"max-video-preview:-1"},"canonical":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/","og_locale":"en_US","og_type":"article","og_title":"Stervanger, SLOT-episode | rooi rose","og_description":"Hy hardloop oor die gras rivier toe. Jama agterna. Hy gee nie om of hy nog sy nagklere aanhet nie. Hulle hardloop af met die rivierpad. Verby die rietbos met sy nuwe groen lote. Uitasem gaan sit hy by die [&hellip;]","og_url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/","og_site_name":"rooi rose","article_publisher":"https:\/\/www.facebook.com\/rooirose\/","article_published_time":"2016-03-04T12:06:31+00:00","article_modified_time":"2016-03-04T12:27:56+00:00","og_image":[{"width":850,"height":476,"url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg","type":"image\/jpeg"}],"author":"Michelle Nortje","twitter_card":"summary_large_image","twitter_creator":"@rooi_rose","twitter_site":"@rooi_rose","twitter_misc":{"Written by":"Michelle Nortje","Est. reading time":"16 minute"},"schema":{"@context":"https:\/\/schema.org","@graph":[{"@type":"Article","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#article","isPartOf":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/"},"author":{"name":"Michelle Nortje","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#\/schema\/person\/5e2ea2899ffb0152930df78c23d3dddd"},"headline":"Stervanger, SLOT-episode","datePublished":"2016-03-04T12:06:31+00:00","dateModified":"2016-03-04T12:27:56+00:00","mainEntityOfPage":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/"},"wordCount":3250,"commentCount":0,"publisher":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#organization"},"image":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#primaryimage"},"thumbnailUrl":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg","keywords":["vervolgverhale","fiksie","stervanger"],"articleSection":["Lees"],"inLanguage":"af-ZA","copyrightYear":"2016","copyrightHolder":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#organization"}},{"@type":"WebPage","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/","url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/","name":"Stervanger, SLOT-episode | rooi rose","isPartOf":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#website"},"primaryImageOfPage":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#primaryimage"},"image":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#primaryimage"},"thumbnailUrl":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg","datePublished":"2016-03-04T12:06:31+00:00","dateModified":"2016-03-04T12:27:56+00:00","breadcrumb":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#breadcrumb"},"inLanguage":"af-ZA","potentialAction":[{"@type":"ReadAction","target":["https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/"]}]},{"@type":"ImageObject","inLanguage":"af-ZA","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#primaryimage","url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg","contentUrl":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2016\/01\/Stervanger-e1457513531806.jpg","width":850,"height":476,"caption":"Stervanger, SLOT-episode"},{"@type":"BreadcrumbList","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/stervanger-slot-episode\/#breadcrumb","itemListElement":[{"@type":"ListItem","position":1,"name":"Home","item":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/"},{"@type":"ListItem","position":2,"name":"Stervanger, SLOT-episode"}]},{"@type":"WebSite","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#website","url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/","name":"rooi rose","description":"Stylvol, sinvol, propvol","publisher":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#organization"},"potentialAction":[{"@type":"SearchAction","target":{"@type":"EntryPoint","urlTemplate":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/?s={search_term_string}"},"query-input":{"@type":"PropertyValueSpecification","valueRequired":true,"valueName":"search_term_string"}}],"inLanguage":"af-ZA"},{"@type":"Organization","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#organization","name":"Rooi rose","url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/","logo":{"@type":"ImageObject","inLanguage":"af-ZA","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#\/schema\/logo\/image\/","url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2020\/12\/rrlogo.jpg","contentUrl":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-content\/uploads\/2020\/12\/rrlogo.jpg","width":400,"height":400,"caption":"Rooi rose"},"image":{"@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#\/schema\/logo\/image\/"},"sameAs":["https:\/\/www.facebook.com\/rooirose\/","https:\/\/x.com\/rooi_rose"]},{"@type":"Person","@id":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/#\/schema\/person\/5e2ea2899ffb0152930df78c23d3dddd","name":"Michelle Nortje","image":{"@type":"ImageObject","inLanguage":"af-ZA","@id":"https:\/\/secure.gravatar.com\/avatar\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g","url":"https:\/\/secure.gravatar.com\/avatar\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g","contentUrl":"https:\/\/secure.gravatar.com\/avatar\/5ebe6c7bc7f362ce66b3e1f8aaea8a5836a40ef79add1a2c9f37b41b5dddc825?s=96&d=mm&r=g","caption":"Michelle Nortje"}}]}},"distributor_meta":false,"distributor_terms":false,"distributor_media":false,"distributor_original_site_name":"rooi rose","distributor_original_site_url":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose","push-errors":false,"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/44016","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/users\/8"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=44016"}],"version-history":[{"count":0,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/44016\/revisions"}],"wp:featuredmedia":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/media\/19700"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=44016"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=44016"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/novanews.co.za\/rooirose\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=44016"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}