Sy, die meeue en die Heilige Gees, ’n mini-dramareeks van drie episode wat verlede week op kykNET begin het, vertel die verhaal van Ingrid, ’n vrou wat omtrent enigiets kan laat werk. Maar om die enkelma van haar sesjarige dogter, Zoey, te wees, is die een ding waarop sy net nie ’n houvas kan kry nie. Met die hoop op ’n nuwe begin verhuis Ingrid en Zoey na Vishoek.
Simoné Pretorius vertolk die rol van Ingrid, terwyl Mila-Sofi Clasen en Evan Hengst as Zoey en Simon, Zoey se pa, te sien is. Die ondersteunende rolverdeling sluit onder andere Cintaine Schutte, Albert Pretorius, Daneel van der Walt, Ira Blanckenberg en Marion Holm in.
Simoné het ’n paar vrae beantwoord oor die reeks:
Sy, die meeue en die Heilige Gees het verlede week op kykNET begin. Hoe sou jy die reeks beskryf?
Dis ’n reeks wat jou nie los nie. Ingrid neem jou saam op ’n baie intieme reis. Soms is dit so intiem dat dit voel asof jy as kyker te naby is, asof jy meer sien as wat jy veronderstel is om te sien. Dis weerloos, rou en eerlik oor die uitdagings van moederskap, en spesifiek oor hoe dit is om dit alleen as enkelma te doen.
Wat was dit van hierdie storie of karakter wat jou onmiddellik laat besluit het om deel van die projek te wees?
Ek is aanvanklik genader om Celine te vertolk, en op papier het dit sin gemaak: Celine is gelowig, sy het drie kinders en ’n gesonde huwelik. Maar ’n paar weke voor die verfilming het die skrywer en regisseur, Chanél Muller, vir my gesê sy voel eintlik Ingrid is my rol. Toe ek die teks lees, kon ek dit nie neersit nie. Ek het soveel van myself in haar gesien en ook van my ma. My ma was ’n enkelma wat ’n nuwe begin vir haarself moes maak toe ek vier jaar oud was. Sy het heel toevallig ook ’n Golfie gery! Die storie was net so na aan die huis. En die kans om ’n volwaardige drama te doen was vir my baie opwindend.
Die reeks roer temas soos geloof, identiteit en verhoudings aan. Watter van hierdie temas het jou persoonlik die diepste geraak?
Die geloofstema lê baie na aan my hart. Maar wat my regtig opgewonde maak, is hoe subtiel dit in die storie verweef is, sonder om te preek. Mense voel dadelik as iets in hul kele afgedruk word. Hier is dit amper asof die kyker saam met Ingrid vir God ontdek. En Hy is sag en geduldig met haar, nes Hy met ons is. Dis vir my spesiaal om ’n storie te kyk wat my wêreld wys – by die huis en in die kerk.

Hier is dit amper asof die kyker saam met Ingrid vir God ontdek. Foto: kykNET
Vertel ons meer van die karakter wat jy speel.
Ingrid is ’n ma wat haar uiterste bes probeer, maar dikwels voel dit is nie genoeg nie. Sy is moeg, sy is soms kortaf, sy maak foute, en sy is lief vir haar kind met alles wat sy het. Ek dink baie vroue gaan hulself in daardie spanning herken: dat jy sterk móét wees terwyl jy eintlik net daarna smag dat iemand jou raaksien. Sy begin oor in ’n nuwe plek, sonder ’n plan, en leer stadig om weer mense toe te laat en ook vir God. Mens hoef nie ’n enkelma te wees om haar te verstaan nie.
Was daar aspekte van die karakter se reis waarmee jy self kon identifiseer?
Ja, beslis. My man is ’n fantastiese pa, en ons is ’n regte span, maar hy werk baie hard, en daar is aande wat ek drie kinders alleen in die bed moet sit. Dan is my lont soms régtig kort, want ek is van nature ’n ongeduldige mens. Daardie moegheid en frustrasie ken ek goed. Die res het ek geskoei op wat ek as kind beleef het: om groot te word by ’n enkelma wat deur ’n seer egskeiding moes gaan.
Jy is al lank een van Suid-Afrika se geliefde aktrises. Hoe het jou benadering tot rolle en stories oor die jare verander?
Dankie, dis ’n groot kompliment. Die grootste verandering het gekom met drie klein kinders wat soveel van my tyd en aandag verg. As ek nou vir iets ja sê, weet ek dit vra ook opoffering van baie ander mense. Dit is mense wat met groot glimlagte inspring en met soveel liefde help. Maar ’n mens is net baie meer bewus van wat dit kos om weg van die huis te wees. So, ek oorweeg nou elke geleentheid driehonderd keer, want dit moet regtig die moeite werd wees. Vroeër, toe ek minder gebonde was, het ek makliker en vinniger ja gesê, en dit was ook goed. Maar nou kies ek met meer intensie.

Simoné Pretorius kies nou haar rolle met meer intensie. Foto: kykNET
Wat was die grootste uitdaging maar ook die grootste beloning van hierdie rol?
Albei was om met Mila-Sofi te werk. Sy is absoluut wonderlik. Dit was so ’n beloning om te sien wat sy alles na die tafel bring, en hoe eerlik en spontaan sy is. Dit is aansteeklik. Maar sy is steeds klein, en ’n stel is uitputtend en oorstimulerend, selfs vir grootmense. Daar is ’n toneel by die bad in episode een wat ons geskiet het nadat sy al so lank en so mooi gewerk het. Sy het genoeg gehad van in die bad sit, en dit moes ons respekteer. So, ek het my kant van die toneel teen ’n muur gespeel en geskree. Om daardie emosie sonder haar voor my te vind, was ’n heerlike uitdaging.
Wat hoop jy neem kykers weg van die reeks?
Episode twee is ’n lieflike episode. Ingrid begin haar voete vind in Vishoek, dit gaan goed met haar en Zoey, en sy begin haar hart oopmaak vir die mense rondom haar. En dan kom Simon. As ek kykers een ding sou vra om saam te neem na die laaste episode, is dit dit: Onthou hoe Ingrid in episode twee is en hoe sy ’n beter ma vir Zoey is sonder hom. Dit gee belangrike konteks vir wat sy in episode drie doen.
As jy vir jou jonger self een stukkie raad kon gee oor liefde, geloof en die lewe, wat sou dit wees?
Ek sou vir haar sê jy hoef nie perfek te wees om geliefd te wees nie: nie deur God nie, nie deur jou man nie, en nie deur jou kinders nie. Hulle het nie ’n perfekte ma nodig nie. Hulle het ’n ma nodig wat jammer kan sê en weer kan begin.

“Jy hoef nie perfek te wees om geliefd te wees nie: nie deur God nie, nie deur jou man nie, en nie deur jou kinders nie,” sê Simoné Pretorius. Foto: kykNET
Sy, die meeue en die Heilige Gees wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Wat wys op kykNET en kykNET&kie in Oktober 2026 | rooi rose
