Die DM se gebou in Paarl.Foto: Rasaad Adams


Terwyl die Drakenstein-munisipaliteit homself voorberei om sy nuwe uitvoerende burgemeester aanstaande Woensdag (13 Maart) aan te kondig, het Paarl Post vertroulik verneem spanning heers in die DA-koukus oor wie dié amp gaan vervul – met sprake dat sommige raadslede eis Conrad Poole moet in sy pos herstel word.

Name soos dié van Gert Combrink, die adjunkburgemeester, asook Lorenzo Arendse, die burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur, is ook in die hoed gegooi.

Paarl Post verstaan dat die minder gewilde Laurichia van Niekerk, die burgemeesterskomiteelid vir beplanning, ook vir die pos oorweeg word.

Poole is Woensdag (28 Februarie) op ’n raadsvergadering deur ’n wantrouemosie as uitvoerende burgemeester verwyder, toe 34 uit die 62 raadslede vir sy verwydering gestem het.

DA-raadslede was onder die 34 wat teen Poole gestem het.

Combrink neem intussen in Poole se plek waar.

Gert Combrink

Lorenzo Arendse

Laurichia van Niekerk

Enkele opposisieraadslede het vandeesweek by navraag aan Paarl Post gesê die feit dat DA-raadslede teen Poole gestem het, het baie verdeeldheid en spanning in die DA-koukus veroorsaak.

“Buiten die feit dat daar nou feitlik oor en weer baklei word vir die pos, dink ek die DA-koukus is ook hard besig om te probeer uitvis wie presies daardie raadslede was wat teen Poole gestem het.

“Ek dink persoonlik die DA-koukus in Drakenstein is vol magshonger politici, en dis wat dit so moeilik maak om te voorspel hoe hierdie storie gaan uitspeel,” het ’n raadslid gesê.

Voor die afloop van verlede week se wantrouemosie teen Poole het Moutie Richards, ’n ANC-raadslid wat die mosie namens opposisiepartye geopper het, ’n dokument aan die Speaker oorhandig, waarin altesaam 32 raadslede gevra het dat hulle in die geheim moet stem.

Raadslede – hoofsaaklik uit die banke van die DA – het vir ’n groot deel van die mosie daarop aangedring dat die Speaker nie dié dokument in ag moet neem nie.

Poole self het die Speaker gemaan dat die dokument nie oorweeg moet word nie en het aangevoer dat die opposisie voor die begin van die raadsvergadering sulke versoeke aan die Speaker se kantoor moes geopper het.

Met die bekendmaking van die mosie se uitkoms het Koos le Roux, die Speaker, verlede week aanvanklik gesê Poole se burgemeesterskomitee is gevolglik ook ontbind.

Hy het egter intussen by navraag aan Paarl Post bevestig Poole se burgemeesterskomitee bly op die versoek van die waarnemende burgemeester in hul poste tot komende Woensdag se verkiesing.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article