Die bekende spuitfontein op die hoek van Blouvleiweg en Piet Retiefstraat in Wellington gaan, na jare se betoë deur inwoners, herbou en nuut gemaak word.
Terselfdertyd het die stadsraad ook begin om die verlate fonteintjie voor die dorp se openbare biblioteek op te knap en om ’n blomtuin rondom die fontein aan te lê.
Volgens Hester de Kock van die Wellington Forum – die organisasie wat al lank saam met ander organisasies soos die Wellingtonse Verfraaiingskomitee vertoë tot die stadsraad gerig het om die spuitfontein op te knap – is daar nou sprake dat die raad nie alleen net die terrein om die fontein gaan verfraai nie maar ook na maniere kyk om die verkeersvloei by die fontein te verbeter.
Die moontlikheid van ’n glybaan en ’n robot op die hoek, word daarom ook ondersoek.





