Die gebeure wat die afgelope byna twee weke plaasgevind het ná die verdwyning van die mooie klein groen-oog meisiekind van Saldanha is ongelukkig ’n breë weerspieëling van waar ons ook eens mooie land is.

Toe die nuus hiervan soos ’n veldbrand versprei, het die haaie begin sirkel om die situasie vir eie gewin uit te buit. In hierdie verkiesingsjaar het allerlei politici kamtig met die soektog kom help. Elke Jan Rap en sy maat het ook talle onwaarhede op sosiale media versprei wat die land op hol gehad het.

Die kern van die saak is dat Joslin maar net een van derduisende weerlose kinders is wat vir die wolwe gelaat is.

In die Grondwet van die land word tog duidelik geskryf: Kinders het kos en skuiling nodig, en moet beskerm word teen mishandeling, verwaarlosing en agteruitgang.



Ook in die dae van Joslin se verdwyning het dit aan die lig gekom dat talle ander kinders oor die land heen tans vermis word – ’n duidelike boodskap dat Joslin se situasie nie uniek is nie, maar eerder alledaags.

Die jongste nuus van wat Joslin se lot sou kon wees, dui op ’n barbaarse samelewing en ’n regerende party wat nie ’n duit omgee nie. Want wanneer die stof oor Joslin gaan lê, gaan daar net weer nog ’n Joslin wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article