Christine van Wyk, nuwe voorsitter van die Wellingtonse polisiëringsforum.Foto: Verskaf


Christine van Wyk, bekende Wellingtonner, is op die jongste byeenkoms van die Wellingtonse Polisiëring Forum as voorsitter van die bestuur van die forum aangewys.

Christine het in die jongste verlede ’n leidende rol in verskeie belangrike Wellingtonse organisasies gespeel. Sy word onder meer deur talle Wellingtonners beskou as die persoon wat die Wellingtonse sakekamer aanmekaar gehou en tot nuwe hoogtes aangevuur het. Toe sy in 2015 as lid van die sakekamer se bestuur bedank het ná ’n meningsverskil oor die sakekamer se standpunt teenoor die beoogde verbrandingsoond om van die dorp se vullis ontslae te raak, het die sakekamer binne enkele dae opgehou om te bestaan.

Christine, wat deesdae ook betrokke is by organisasies wat tbetrokke is by die veiligheid van Wellington se inwoners soos WAG / Stop Misdaad, sê dat die interaksie tussen die publiek en die polisie van die uiterste belang is. Vir haar is dit daarom belangrik dat die forum waarvan sy nou die voorsitter is, in die toekoms moet voortgaan om te sorg dat die verhouding tussen die polisie en die publiek van Wellington elke dag verbeter.

Sy wil haar as voorsitter van die forum daarvoor beywer en te sorg dat Wellington se nuwe polisiekantoor, waaroor daar nou al verskeie jare lank gepraat word en waarvoor daar reeds ’n terrein opsy gesit is, ’n werklikheid moet word. Die forum het reeds in die jongste tyd gehelp om die huidige polisiekantoor te verbeter deur byvoorbeeld te sorg dat die kamer vir traumaberading by die polisiekantoor opgeknap en verbeter word.

“Die ideaal sal wees as ons polisie nie alleen oor ’n behoorlike trauma-sentrum beskik nie maar ook oor ’n voltydse berader wat mense kan bystaan wat deur ’n traumatiese ervaring is. Ons hoop om in die nabye toekoms ten minste die dienste van ’n voltydse berader vir een dag oor naweke beskikbaar te stel en in die toekoms ’n voltyde berader by die polsiekantoor beskikbaar te hê.”

Die res van die nuwe bestuur van die forum is Danny van Rooyen ondervoorsitter, Allison Turner sekretaris, konst. Yolande Wildschutt vise-sekretaris, Stephan Landsberg kassier en Heinrich Appollis projekbestuurder.

Die nuwe addisionele bestuurslede is Avril Appollis, Jonathan Liebenberg en Esmé Rotto. Avril Esterhuisen is verantwoodelik vir kommunikasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article