Ten spyte van die Drakenstein-munisipaliteit se nuut gestigte taakspan om kabeldiefstal in die vallei te bekamp, duur hierdie soort misdaad onverpoos voort.

Klagtes word weekliks uit Wellington, Paarl-Oos en Franschhoek ontvang oor allerlei koperkabels wat deur diewe gesteel word.

’n Brand het verlede week weens die diefstal van oorhoofse spoorlynkabels by die Paarl Arboretum ontstaan.

Dieselfde aand het ’n grondeienaar langs die R301 alarm gemaak toe die plaas se krag buite beurtkragtye onklaar geraak het. Plaaseienaars weet teen hierdie tyd wanneer die krag afgaan, is dit waarskynlik wanneer kragkabels gesteel word.

’n Veiligheidswag van ADT het dadelik ondersoek langs die R301 gaan instel en naby die plaas gesien die kragdrade by een van die kragpale langs die R301 is gesteel.

Die wag het op sy beurt dadelik die Drakenstein-munisipaliteit se noodbeheerkamer geskakel om die voorval aan te meld – ook in die hoop dat die taakmag wat op die been gebring is om kabeldiefstal te bekamp, betyds hierop sou reageer.

Maar volgens inligting was die enigste reaksie van die munisipaliteit meer as ’n uur later toe ’n werknemer van die munisipaliteit se kragafdeling op die toneel aankom om herstelwerk te doen.

’n Bron wat by veiligheidstrukture in die gebied betrokke is, het gesê as die munisipaliteit dadelik opgetree het toe hy die noodoproep oor die kabeldiefstal ontvang het, kon dit tot die inhegtenisneming van ’n kabeldief gelei het.

“Die munisipaliteit huur ten duurste die hulp van ’n private veiligheidsmaatskappy om die taakspan te help, maar dan is hy veronderstel om die hulp van die polisie en dies meer te gebruik. Hoekom was daar in hierdie voorval – een van baie – geen reaksie van die taakspan nie? Die stelsel is disfunksioneel, om die minste te sê!”

Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, sing egter ’n ander deuntjie. “Die taakspan is ’n samevoeging van verskillende veiligheidsagentskappe wat die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Eskom, Transnet, buurtwagte, die verskillende gemeenskapspolisiëringforums en veiligheidsmaatskappye insluit,” sê Esau.

“Die doel van die taakspan is om kabeldiefstal te voorkom en die bose kringloop van kabeldiefstalsindikate te help breek. Tegnologie word ingespan om versteurings aan die kabelnetwerk te bespeur en dan aan die DSSN (Drakenstein Smart and Safety Network) se beheerkamer deur te gee. Die taakspan funksioneer onder die leiding van ons burgemeesterskomiteelede vir openbare veiligheid en ingenieursdienste, en geen bykomende koste is betrokke nie.

“Die beheerkamer is die skakel tussen die vennote en kontak die polisie en onderskeie nooddienste soos en wanneer dit benodig word – in belang van die veiligheid van die gemeenskap van Drakenstein. Die DSSN-beheerkamer ontvang klagtes en verwys dit na die verwante departemente of rolspelers vir optrede. Verder monitor die beheerkamer kameras by munisipale persele.

“Agt mense is reeds sedert Februarie deur die polisie in samewerking met die munisipaliteit en ander veiligheidsvennote in hegtenis geneem. Sedert Februarie is ’n 50%-afname in die skade wat weens kabeldiefstal gely word, aangeteken.”. How functional is the Drakenstein-municipality’s cable theft tactical team?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article