Uit duisende skole reg oor Afrika is Charleston Hill Primêr in Paarl die eerste skool op die vasteland wat ’n eed afgelê het om handel met regverdige en volhoubare ondernemings en instansies te ondersteun.
Dit maak Charleston Hill dus die eerste skool vir billike handel, of Fair Trade, soos dit in Engels genoem word. Die belofte wat die skool met die World Fair Trade Organisation (WFTO) onderteken het, stel leerders bloot aan meer geleenthede om die wêreld te verken en hul kennis te verbreed.
Deur die eed belowe die skool om tot billike arbeidspraktyke en produksieprosesse, wat nie skadelik vir die mens of die omgewing is nie, by te dra en dit te ondersteun. Dit gaan ook alles oor die volhoubaarheid van natuurlike hulpbronne vir die toekoms.
Leerders sal ook meer by projekte en veldtogte betrokke wees.
Wilfred Frolicks, die waarnemende skoolhoof, beskryf hul besluit as vreesaanjaend oor die vreemde wat hulle invaar. Tog sien die skool daarna uit om meer tot die gemeenskap by te dra.
“Ons as opvoeders het ’n gesamentlike besluit geneem om ons leerders nie net ’n klaskameropvoeding te bied nie, maar om hulle ook aan die praktyke van die wêreld bloot te stel. Ons by Charleston Hill het ten doel om ons leerders te ontwikkel in selfonderhoudende, doeltreffende en produktiewe burgers van ons land en die wêreld,” verduidelik Frolicks.
Gelukkig hoef Charleston Hill nie die verantwoordelikheid alleen te dra nie. Die skool geniet die volle ondersteuning van die Drakenstein-munisipaliteit. Die munisipaliteit het hom verlede jaar as ’n stad vir billike handel verklaar, en toe ook ’n ooreenkoms met die WFTO onderteken.
Laurichia van Niekerk, DM-burgemeesterskomiteelid vir beplanning en ontwikkeling, het die skool gelukgewens en as baanbreker bestempel. Van Niekerk hoop baie ander skole in die munisipale omgewing sal in Charleston Hill se voetspore volg.
“Deur Fair Trade te ondersteun, ondersteun jy proaktief die volhoubare ontwikkeling van ons stad, wat op sy beurt skoon lug, ongerepte natuurskoon, gesonde gemeenskappe en ondernemings wat swaarkry kan oorleef, bevorder.”
Die skool se Groenklub volg elke maand ’n program saam met die munisipaliteit en WFTO. Leerders word opgelei en ondersteun om suksesvolle en selfonderhoudende leiers te word.
“Hulle word gelei en geleer om ons natuurlike hulpbronne te respekteer en spaarsamig te gebruik, om sodoende te verseker dat ons nageslagte ook die mooiheid van die natuur en al die lewensbelangrike bronne kan geniet. Die program bring suksesvolle sakelui van ons dorp na die skool. Hierdie manne en vroue bring van hul selfgeproduseerde produkte saam en doen aanbiedings waarin hulle aan ons leerders hul reis tot sukses verduidelik,” vertel Frolicks.
Die skool se Groenklub bestaan uit 80 leerders en 16 onderwysers.
Musa Mpofu van WFTO sê die organisasie sien daarna uit om hande te neem en saam met die skool werk.
“As die World Fair Trade Organisation, die tuiste van maatskaplike ondernemings, is ons opgewonde daaroor om saam te werk aan veldtogte wat ’n groot invloed op die gemeenskap het, terwyl ons daaraan werk om kennis te vergroot om meer volhoubaar te word. Ons sien uit na die wonderlike aktiwiteite wat ons saam met die Groenklub beplan.”. Out of thousands of schools across Africa, Charleston Hill Primary in Paarl is the first school on the continent to take an oath to support fair and sustainable trade of businesses and institutions.





