Die De Kraal-sportveld in die Paarl, waar reeds vir ‘n geruime tyd opknappingswerk gedoen word, sal teen die einde van Maart oopgestel word vir die publiek en spesifiek vir rugbyspanne om op die veld te oefen.
Só het Laurichia van Niekerk, die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning, op ‘n onlangse munisipale byeenkoms, waar ‘n oorsig oor sport in die vallei gegee is, gesê.
Die opknapping van die sportveld wat uit vier fases bestaan, is reeds in 2018 beplan.
Volgens destydse kommentaar deur die DM sou die munisipaliteit die eerste fase in die 2017-’18-boekjaar voltooi het.
Die opknappings is egter uitgestel, tot onlangs.
Luidens Yvette Tsolo, die DM se bestuurder van sport en ontspanning, beloop die algehele koste van die opknappingswerk R4 miljoen.
Die fase 1-opgraderings, wat tans aan die gang is, sluit tydelike toilette en kleedkamers in, asook hoëmasligte, die uit-
meet en voorbereiding van twee rugbyvelde, die installering van twee stelle rugbypale (geskenk deur die Val de Vie-stigting), die gedeeltelike formalisering van die parkeerarea en die plasing van tydelike mobiele sitplekke.
LEES OOK: Drakenstein hoop om sy historiese De Kraal-sportveld vroeg volgende jaar te heropen
Rugbyspanne sal van die einde van vandeesmaand daar kan begin oefen, maar Tsolo het verduidelik dat rugbywedstryde nie op die sportterrein aangebied kan word voordat die velde volledig omhein is nie.
Die fasiliteit beskik nie oor ‘n krieketveld nie.
Stephen Korabie, die DM se burgemeester, het in November 2025 op ‘n vergadering gesê dat die DM die sportterrein, wat ‘n ryk geskiedenis het, wil laat herleef.
Die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, het ook op die destydse vergadering erken dat die projek reeds vir ‘n geruime tyd beplan is, maar deur ‘n reeks vertragings gekniehalter is.
“Dit is nou belangrik dat ons die projek die momentum gee wat dit verdien en dat ons die bekendes en gemeenskapslede wie se voetspore hierdie velde vul, eer. Ons moet nou die storie van De Kraal vertel,” het hy gesê.
Leibbrandt het beklemtoon dat die munisipaliteit ten volle daartoe verbind is om saam met die sportgemeenskap te werk om die projek in al sy fases te verwesenlik.





