Dink aan Suid-Afrika en safari kom in die gedagtes. Dink aan Suid-Afrikaanse wyn en chenin blanc kom staan dikwels voorop. Nou kan jy hierdie twee nasionale vreugdes in ’n bergfiets- chenin blanc-safari in die Kaapse Wynland kombineer, en dit kan dalk net lei tot die beste herfs wat jy nog beleef het.

Jy kan, op jou eie tyd, aan die Chenin-safari deelneem. Dit duur van Saterdag 6 Mei tot Saterdag 10 Junie (wat terloops ook toevallig die internasionale Drink Chenin-dag is). Bergfietsryers – en enige ander lede van die gemeenskap – kan hul eie roetes saamstel en ry soos dit hulle pas. ’n Voorvereiste is uiteraard dat hulle ingevolge die drankwet reeds die wettige ouderdom moes bereik het. Op hul roetes gedurende die ses weke van die Chenin-safari kan hulle by enige van die 30 deelnemende wynplase in die Kaapse Wynland aanry. Daar kan hulle aan ’n wynproe deelneem, maar moet as bewys van hul besoek ’n foto laai om te wys hulle het wel daardie wynmakery besoek.

“Dis ’n wen-wen-storie, hoe jy ook al daarna kyk,” sê Christina Harvett, bestuurder van die Chenin blanc-vereniging wat die Chenin-safari reël. “Jy kry ook die kans om een van ’n aantal groot pryse te wen of jy kan, oor die sesweke-tydperk, sommer net ’n uiters genotvolle tyd geniet terwyl jy ook jou fiksheid verhoog. Hoe dit ook al sy – as jy van avontuur hou en goeie wyn geniet, kan jy nie verloor nie.

“Besoek ’n sestal Chenin-safari-stilhouplekke, laai jou foto’s van elk op die stelsel en jy kan daarmee ’n #Drink Chenin-fietsryhemp wen. Dit is ook die rede waarom dit noodsaaklik is om vir die Chenin-safari te registreer en ook jou hempgrootte te verskaf,” sê sy.

“Besoek meer as ses chenin-haltes en jy staan ’n kans om ’n prys van ’n naweek vir twee in ’n luukse boetiek-oord weg van die stadsgewoel te wen, of uitsoek-geskenkpakke vir kos- en wynliefhebbers, of begeleide togte net vir vroue. Naas hierdie pryse is daar die opwinding om van naderby van die mees skilderagtige wyngebiede ter wêreld te ervaar en ook die geleentheid om van die beste nuwe en verouderde chenin-wyne eerstehands te leer ken.

“Deelnemers sal die geleentheid kry om komplekse wyne uit ou wingerde te proe; ook ligte, verfrissende chenins; gehoute, ongehoute, stil- en vonkelwyne; en ander wat volkome droog is, ryk en diep, naasdroog of soet is. Die stilistiese verskeidenheid wat baie van die wynmakerye aanbied, is op sigself ’n safari!”

Die deelnemende wynmakerye is oor ’n groot deel van die Kaapse Wynland versprei – van die Weskus en Darling tot die Swartland, Bottelary, Stellenbosch, Helderberg, Simondium, die Paarl, Franschhoek, Worcester, Wellington, Rawsonville, Tulbagh en Villiersdorp, asook die Breedekloof en die Du Toitskloof-berge.

Jy kan die wynmakerye onafhanklik besoek en jou roetes en tydtafel só beplan dat dit saamval met die tye wanneer die wynmakerye oop is. Of jy kan jou aansluit by die Chenin Crew en so aan vooraf beplande groepsgeleenthede deelneem. Dit sluit in die Breedekloof Gravel & Grape (6 Mei), Darling Hills (20 Mei) en die Bottelary Hills-Renosterveld-bewaringsgebied (3 Junie) in, met die #DrinkChenin, wat ’n pretrit vir die hele gesin insluit (10 Junie) as hoogtepunt. Fietsryers sal ’n afslag ontvang as hulle vir enige van hierdie vier groepsgeleenthede inskryf.

By die laaste van die vier geleenthede, die jaarlikse #Drinkchenin, wat vanjaar op Backsberg Family Wines plaasvind, sal die chenins van die top-20 produsente uitgestal word. Benewens ’n fietsren sal musiek in lewende lywe verskaf word, kos sal te koop wees en aktiwiteite om die kinders besig te hou, sal beskikbaar wees.

“Die doel van die safari oor ses weke is verantwoordelike genot,” sê Harvett. “Ons wil nie hê deelnemers moet hulself ooreis nie – hou by die wettige dranklimiet en gebruik die volle ses weke om by die plekke en roetes van jou keuse uit te kom. Jy hoef ook nie noodwendig ’n fietsryer te wees om deel te neem nie. As jy wil ry na waar jy wil wees, is dit ook reg – solank jy vir deelname registreer.” . Mense wat vir die Chenin-safari en vir een of meer van die groepsgeleenthede wil registreer, of wat meer besonderhede wil bekom oor die deelnemende wynmakerye en hul proe-opsies en -pryse, en wil weet waar hulle hul foto’s moet laai, of besonderhede oor deelname of pryse wil bekom, kan die webblad https://chenin.co.za/cheninsafari besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article