Uitstekende spanwerk deur die gemeenskap van Noorder-Paarl, buurtwagte, veiligheidsmaatskappye en die Paarl-polisie het daartoe gelei dat ’n vermeende berugte dief en sy medepligtige op heter daad betrap is.
Die voorval het Vrydagmiddag omstreeks 13:00 in Groenvlei plaasgevind toe die eienaar van ’n huis hiér twee mans op sy erf met sy aankoms tuis gewaar het.
Hy het dadelik die buurtwag in kennis gestel, wat op hul buurt nog versterkings ontbied het.
Toe die verdagtes besef hulle is opgemerk, het hulle te voet gevlug en in die rigting van Optenhorststraat gehardloop.
Maar danksy die spoedige optrede van die buurtwagte, Pacrs- en Vetus Schola-sekuriteit en die polisie is hulle binne 10 minute naby AgriMark aangekeer.
’n Handwapen, wat aan die huiseienaar behoort, asook ’n skootrekenaar, wat waarskynlik uit die huis in Groenvlei gesteel is, is in die besit van die hoofverdagte gevind.
Die mans, van Crossroads, Kaapstad, is deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem.
Die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis het bevestig twee verdagtes – Mthetheleli Sebezo en Anele Pemela – het in verband hiermee in die Paarl-landdroshof verskyn. Hulle word aangehou totdat hulle weer op 19 Junie weer in die hof verskyn.
Du Plessis het gesê hulle is in hegtenis geneem weens die besit van gesteelde eiendom en die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Sy het verder bevestig die twee verdagtes is tans uit op borgtog in verskeie sake in die Metropool-gebied weens huisbraak en die besit van gesteelde goedere.
Dieselfde verdagtes is in 2021 in Durbanville in hegtenis geneem en weens die besit van gesteelde eiendom skuldig bevind.
Die hoofverdagte in die saak, Sebezo, is al jare lank bekend aan misdaadbekampingsrolspelers, maar die polisie kon hom ten spyte van baie beswarende inligting teen hom, nog nooit behoorlik agter tralies laat beland nie. Hy word na bewering betrek by tientalle inbrake in die Paarl alleen.
Die verdagte word ook betrek by ’n opspraakwekkende huisrooftog in Vrykyk in 2021. Dit hou verband met ’n inbraak by ’n woning in Treurnichtstraat. Hier het ’n groep mans met ’n ligblou Hyundai Elantra, wat volgens inligting aan Sebezo behoort het, tot binne-in die huis se motorhuis gery, die deur weer toegemaak en 40 minute lank die huis geplunder en waardevolle besittings gesoek. Hulle het ook ’n kluis oopgebreek en twee vuurwapens gesteel.
Die Vrykyk-buurtwag se veiligheidskameras het die voertuig, met ’n CAA-registrasienommer, op kamera vasgevang met die insittendes, wat in oorpakke geklee by die huis aangekom het, in die motor.
Danksy die veiligheidskameras se beeldmateriaal is twee verdagtes, van wie Sebezo een was, enkele dae later in die motor in Durbanville in hegtenis geneem en na Paarl oorgeplaas.
Die saak het egter nooit êrens heen gelei nie en die verdagtes was weer op vrye voet. Du Plessis het gesê Sebezo is wel ondersoek vir die inbraak in Vrykyk, maar kon nie positief verbind word nie.





