Die 20ste Suidoosterfees vind vanjaar van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap in Kaapstad plaas.
Vanjaar gaan feesgangers getref word deur ’n warrelwind van uitstekende teater, musiek, dans en boekgesprekke op die NATi Teaterfees-spyskaart.
Die afgelope twee jaar kon die Suidoosterfees daarin slaag om ’n verskeidenheid aktiwiteite en projekte suksesvol tydens die pandemie aan te bied. Op dié manier kon kunstenaars en deelnemers aan die fees se ontwikkelingsprojekte toegang tot ’n professionele platform vir hul produksies kry.
Vanjaar kan mense uitsien na ’n program propvol produksies uit die boonste rakke, wat wissel van operette, klassieke musiek, drama en jeugteater tot skrywersgesprekke. Kunstenaars wat gehore beslis aan hul voete gaan hê, sluit in: Nataniël (in Moscow), Brendon Daniels, Dean Smith, Antoinette Kellermann, Charlton George, Frank Opperman, Lauren Dasappa en Marlo Minnaar.
Heelwat trefferstukke is gegrond op boeke deur gewilde Afrikaanse skrywers, en opwindende verhoogstukke deur opkomende jong skrywers is in die program ingesluit.
Philip Rademeyer se drama, Opdrifsel, wat pas in boekvorm deur Protea Boekhuis uitgegee is, handel oor ’n ouerpaar, Mara en Bernard, wat hul tienerseun aan die dood afstaan. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots skitter as die ouerpaar wat hul smart moet verwerk sonder om mekaar ook te verloor. In 2021 het die toneelstuk die Opwip-Aardklop-prys vir beste aanbieding gewen.
Rademeyer is ook verantwoordelik vir die verhoogverwerking van Zirk van den Berg se roman, Ek wens, ek wens, wat onder meer met twee kykNET-Rapport-boekpryse bekroon is. In die verhoogweergawe speel Frank Opperman die rol van Seb, ’n lykbesorger wie se lewe skielik minder saai word wanneer ’n sterwende seuntjie en sy ma by die ondernemers instap.
Mutton Hour, met De Klerk Oelofse en Cintaine Schutte, beloof om mense ná twee jaar van pandemie-grendeltye van voor af op die teater versot te maak. Dié produksie maak sy debuut by die Suidoosterfees, en dit is ’n samestelling van lekker lawwe verhale oor “liefde, verlies, hansworse en katte”. Dean Balie en Jemma Kahn het saam met die akteurs die teks geskryf.
Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch is in die rolverdeling van Koeksusters, geskryf deur Justin Redelinghuys. Die akteurs vertolk die rolle van drie vroue van die Kaapse Vlakte: Betty, Brenda en Bieba. Al drie gaan gebuk onder geslagsgeweld en die komediedrama spreek dié euwel ondubbelsinnig aan.
Antjie Krog en Antoinette Kellermann word albei vanjaar 70, en om dié mylpaal te vier, gaan die befaamde aktrise ’n keur van die wêreldberoemde digter se werk aan feesgehore bring. Krog se poësie, deurspek met eerlikheid, erns, ironie, genade en liefde, is nommerpas vir die statuur van die legendariese Kellermann. Die oerkluts kwyt is ’n koproduksie van die Suidoosterfees, KKNK en Aardklop.
Die jong dramaturg Herschelle Benjamin, wat die afgelope paar jaar as ’n opwindende nuwe stem gevestig geraak het, se Agulhasvlakte handel oor Milly, ’n bloemis, wat veg teen die skade wat die natuur van haar geboortegrond bedreig. Wanneer haar suster Amy, ’n sosialemedia-ster van die stad, by haar opdaag, word die verhouding tussen die twee op die proef gestel. Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt is in die rolverdeling.
Die halwe huis, Ricardo Arendse se eenmanstuk met Marlo Minnaar, handel oor Bumper Jansen, ’n opkomende jong skrywer wat op die punt staan om sy eie lewe te neem. Bumper probeer sin maak van dinge soos die liefde, verwerping en die wêreld se verwagtinge. Leslie Javan is verantwoordelik vir die musiek.
Ruan Wessels is te sien in Plesierengel, gebaseer op Leon van Nierop se boeke oor ’n sekswerker wat vroue laat swymel en uiteindelik een van die land se gewildste en bes betaalde gigolo’s word. Dié stuk, gegrond op ’n ware verhaal, ondersoek die tragiese omstandighede wat die hoofkarakter tot dié beroep gedwing het.
Waldemar Schultz en Brendon Daniels speel in Dis 20:15, Ferdinand Bekker se komedie oor Pieter en Francois, doodgewone hardwerkende mense wat besluit om bankrowers te word. Dinge verloop egter nie vlot vir dié amateurs nie.
Ses kort, kragtige monoloë wat deel is van die Suidoosterfees en LitNet se Stemme-reeks, word op verskillende tye gratis vir feesgangers opgevoer. Die stukke by vanjaar se fees is geskryf deur Dana Snyman, Dean Balie, Heloïne Armstrong, Jemma Kahn, Buhle Ngaba en Mike van Graan, en sal feesgangers ongetwyfeld herinner hoe kragtig teater werklik is.. Kaartjies kan by Computicket bekom word. Die volledige feesprogram is op die webblad www.suidoosterfees.co.za beskikbaar.
Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore gedoen is nie.



