KAREEDOUW – Van die klein dorpie Kareedouw tot op die internasionale rugbyverhoog in Roemenië – dit is die merkwaardige pad wat Damian Bonaparte gestap het.
Die Kareedouw-gebore jong man, ‘n oudleerder van die Hoërskool Outeniqua, het reeds vroeg sy staal gewys toe hy in 2016 aan die gesogte SWD Cravenweek deelgeneem het. Bonaparte se talent en deursettingsvermoë het hom van sy tuisdorp na die Universiteit van Pretoria (Tuks) geneem, waar hy hom vinnig in die Varsity Cup-span ingespeel het.
Na sy universiteitsloopbaan het hy in 2020 ‘n nuwe hoofstuk begin toe hy die geleentheid gekry het om klubrugby in Roemenië te speel. Dit was ‘n groot skuif vir iemand uit die klein Oos-Kaapse gemeenskap, maar een wat uiteindelik sy loopbaan na nuwe hoogtes sou neem.
Met harde werk en konsekwente vertonings het Bonaparte homself gevestig in die Europese rugbykringe, en in 2026 is sy deursettingsvermoë beloon toe hy sy debuut in toetsrugby vir Roemenië gemaak het.

Sy ouers, Ruiter en Jacky, tesame met sy broers, Jamian en Curtley, is uiters trots op sy prestasies. Sy oom, Jacobus Jantjes, is ook besonder trots op Damian. Jantjes was destyds die een wat hom in Kaapstad vergesel het tydens sy paspoort- en visumaansoek – ‘n vroeë stap op pad na sy internasionale droom.
“Damian se storie is nie net een van talent nie, maar ook van vasbyt en geloof – ‘n inspirasie vir jong spelers van klein dorpe soos Kareedouw wat groot drome koester,” het Jantjes gesê.
Damian het ook sy opregte dank uitgespreek teenoor sy ouers, sy breë familie en die Kareedouw-gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning en aanmoediging deur sy loopbaan.






You must be logged in to post a comment.