Leerlinge aan die Dankbaar CVO-skool in Bloemfontein het onlangs ‘n uitstappie na die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en die Vrouemonument onderneem vir ‘n besonderse kranslegging.
Dit was die eerste keer kranse gelê by die standbeeld van die twee vroue by die kind wie se name nou uiteindelik danksy navorsing, bekend is.
Leerlinge het die afgelope tyd komberse bymekaargemaak en dit tydens die uitstappie op 30 Mei aan Chantel van Wijk en Marli Buys van Solidariteit Helpende Hand oorhandig. Daarna het hulle deur die museum getoer om van die Anglo-Boereoorlog te leer.

Vier meisies, uitgevat in tradisionele volkspeledrag, het kranse gelê aan die voet van die naald van die monument, by die vroue-beeldegroep.
Dr. Vicky Heunis van die museum vertel Emily Hobhouse het in 1912 die beeldhouer Anton van Wouw in sy ateljee in Canova in Rome besoek terwyl hy aan dié beeldegroep gewerk het. Sy het hom vertel van ‘n voorval wat sy op die Springfontein-stasie beleef het wat ‘n groot indruk op haar gemaak het. Hobhouse het Van Wouw oortuig om sy ontwerp aan te pas om dié toneel uit te beeld.
Die vrou wat sit, is Sophia Reinecke (née Van der Walt), wat getroud was met Martin Reinecke van Reddersburg. Martin is op 30 Julie 1900 by Fouriesburg gevang en met die SS Dilwara as krygsgevangene na Ceylon gestuur.
Sophia, haar seuntjie en haar ma, Cornelia van der Walt (née Venter), is weens die verskroeide aarde-beleid van die Britse militêre owerhede van hul plaas weggevoer en het weke op die Springfontein-stasie vertoef terwyl die Bethulie-konsentrasiekamp gereedgemaak is.
Dit is hier waar Hobhouse hulle twee keer, tien dae uitmekaar, gesien het. Die beeldegroep wys die vroue op 2 Mei 1901 op die stasieplatform, waar die seuntjie, Carolus, op sy ma se skoot lê nadat hy aan diarree dood is. Sy ouma kyk toe.

Sophia het as 22-jarige, op 27 Desember 1901, in die Bethulie-konsentrasiekamp aan ingewandekoors gesterf.
Die CVO-skool se leerlinge was die eerste om kranse by die beeldegroep te lê noudat die name bekend is, danksy Heunis se navorsing.
You must be logged in to post a comment.