Klubrugby in die Overberg is gesond en Saterdag se eerste ligawedstryde is ‘n bewys daarvan.
Grabouw was Saterdag in rep en roer nadat die derby tussen Grabouw se G-Boyz en Safcol beslis is. Al het die G-Boyz met 34-19 die onderspit gedelf, het hulle gewys hulle is wel ‘n span om mee rekening te hou.
Die kompetisie tussen dié twee plaaslike spanne is altyd gesond en Saffies, wat van die begin af die gunsteling was om die wedstryd te wen, moes maar hard werk om punte te kry. Safcol, wat voorlangs baie sterker is as Grabouw, het die skrums oorheers en telkemale die bal, wat hulle in die skrums gewen het, in punte omgeskep.
Die kaptein en agtsteman van Safcol, Benjamin Dwayi, het van juis so ‘n vasteskrum ‘n pragdrie gedruk.
Safcol, wat elke geleentheid in punte wou omskakel, se dissipline het hulle in die steek gelaat en nie net het hulle verskeie strafskoppe afgestaan nie, maar Dwayi is ook tydens die wedstryd met ‘n geelkaart gestraf en ná die wedstryd het hy gesê die manne sal vir die komende wedstryde definitief aan hul dissipline moet werk.
Grabouw is gewis nie dieselfde span as verlede jaar nie en ‘n mens kan sien dat hulle met nuwe ywer speel, maar hulle moet net geleenthede in punte omskakel.
Die wenners van die Overberg Challenge, Hawston Skrik vir Niks en definitief ‘n gunsteling om vanjaar na die Boland-Top-12 deur te dring, het die span van Sea Hawks 57-21 geklop. Dit was ‘n wedstryd waarin die manne van Skrik vir Niks van die begin af gewys het hulle is hier om rugby te speel. Nie net het hulle elke geleentheid gebruik nie, maar die flank Dylon Phillips was soos ‘n veghond op elke los bal. Hul sterspeler Warwick Philander is ook tans die voorloper wat die meeste punte in die Overberg-Grootuitdaagreeks aangeteken het. En verder het die kaptein, Branden Hunter, gewys hy lei deur voorbeeld en het twee drieë teen die span van Arniston gedruk.
Atlantics het dalk sy eerste wedstryd teen Botrivier verloor, maar het bewys hy hoort in die Grootuitdaagreeks en gaan nog groot spanne die skrik op die lyf jaag.
Atlantics, wat 27-31 teen Botla verloor het, sal moet teruggaan na die oefenbord en kyk na sy dissipline – veral by die afbreekpunte. Die span het al die talent en die wil om te wen en gaan gewis ‘n sleutelrol in vanjaar se Grootuitdaagreeks speel. Soos die voorsitter Isak Henecke se: “Onthou – sukses kom nie net van talent af nie, maar van dissipline, toewyding en die wil om tot die laaste fluitjie vir mekaar te veg…”
Ander uitslae van die Grootuitdaagreeks is: Universals 31 teen Genadendal 21; en Kleinmond 27 en Bredasdorp Rangers 17. Ná die eerste wedstryde is Hawston eerste op die punteleer, gevolg deur Safcol Stanford, Kleinmond en Botrivier.
Saterdag speel Grabouw teen Botrivier, Kleinmond teen Stanford, Genadendal teen Caledon, Villierdorp teen Hawston, Sea Hawks teen Safcol en Atlantics teen Bredasdorp Rangers.
In die Streekuitdaagreeks het Riviersonderend Elim met 38-17 verslaan, Blackleaves het 18-0 teen Standards gewen, terwyl Struisbaai 28-21 teen Napier gewen het. Greyton het ‘n wegholoorwinning van 62-7 teen Klipdale behaal.





