Die Helderberg-ster Hughwan Engelbrecht in ’n poging om ’n duikslag af te weer met die doellyn wat wink tydens Saterdag se tuiswedstryd teen Brackenfell.Foto’s: Peter Bee


Helderberg was Saterdag (10 Junie) op Charles Morkel in hul Superliga A-wedstryd teen Brackenfell in die eerste helfte onkeerbaar en het die pas met vier goeie drieë aangegee.

Die rustyd-voorsprong van 28-15 was gesaghebbend, maar die span se blus was in die tweede helfte flou – só flou dat hy gelukkig was om ’n oorwinning van 28-25 in die sakkie te steek.

Kenners reken hul drafstap-oorwinning teen die powere Hamlets (55-9) is glad nie goed vir enigiemand nie.

Berge was ná slegs twee minute op die telbord nadat ’n vinnige drie deur sy linkervleuel, Hughwan Engelbrecht, gedruk en deur die skrumskakel, Michael Visser, verdoel is (7-0). Brackenfell het net hierna met ’n strafdoel geslaag (7-3).

In die negende minuut het Berge se binnesenter, Lyn-Jay Hendricks, die besoekers se lyn gebreek vir sy span se tweede drie. Visser het weer verdoel (14-3). Brackenfell het geantwoord met ’n verdoelde drie (14-10). Toe het ’n lang tydperk sonder enige punte gevolg.

In die 26ste minuut het die losskakel, J.J. Stover, deurgebreek en by die heelagter, Jeandre Lukas, aangesluit, wat sy buitesenter, Quiwin Bauman, vir ’n drie weggestuur het. Visser het die ekstras bygevoeg (21-10).

Lukas het in die 30ste minuut van die halflyn af dwarsdeur Brakkies se verdediging vir die drie van die wedstryd en die bonuspunt gehardloop. Visser het nogmaals (28-10) verdoel.

Brackenfell het vyf minute later sy tweede drie gedruk (telling 28-15; ook die rustyd-telling).

In die tweede helfte was die inisiatief aan Brackenfell se kant en Helderberg blykbaar planloos. Die besoekers het met ’n strafdoel (28-18) geslaag, en in die 57ste minuut het Berge se flank Jady Labuschagne ’n lang lopie ingekry, maar hy is gestuit. Brakkies het in die 66ste minuut ’n goeie verdoelde drie (28-25) aangeteken. Brackenfell het die res van die wedstryd op die aanval gebly en Helderberg moes desperaat verdedig om sy voorsprong te beskerm.

Berge het uiteindelik sy vyfde oorwinning in ses ligabepalings naelskraaps behaal.. DistriksPos & Helderberg Gazette vra hartlik verskoning vir die drukkersduiwel wat kop uitgesteek het en verlede week se verslag se foutiewelike kop, “Helderberg se eerstes agt keer agter Berge se doellyn”.

Hierdie Saterdag (17 Junie) het alle Superliga A-klubs loslootjies, maar Saterdag (24 Junie) ontvang Helderberg St. George’s op Charles Morkel vir die derby-kragmetings.

Ander uitslae:

  • Helderberg II teen Brackenfell II: 22-21
  • Helderberg III teen Brackenfell III: 14-10
  • Helderberg o.20 A teen Brackenfell o.20 A: 29-6
  • Helderberg IV teen Hamiltons IV: 14-12

Lyn-Jay Hendricks teken ’n drie reg onder die pale vir Berge aan.

Helderberg se Conway Pretorius ontsnap die Brackenfell-verdedigers.

Berge-skrumskakel Michael Visser voer die agterlyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article