Die vier verdagtes wat teregstaan vir die moord op Angelo Matroos (18) en Abdullah Daggia (33), is steeds in aanhouding sonder borgtog en sal weer voor die hof verskyn.
Die saak teen drie moordverdagtes, wat weens die mesdood van Abdullah Daggia in hegtenis geneem is, is vir byna twee maande vir verdere ondersoek uitgestel. Die 21-jarige beskuldigde in die Matroos-saak het gister (7 Junie) teen druktyd vir sy borgtog-aansoek verskyn.
Daggia is Woensdagmiddag 18 Mei op die hoek van Eerste -en Visserstraat in Rusthof glo vir sy selfoon vermoor. Dié 33-jarige man van die gemeenskap het op die toneel aan steekwonde wat hy in die aanval opgedoen het, beswyk. Die voorval is ’n paar uur voorafgegaan deur ’n skietery waarin Matroos in Petuniastraat, Broadlandspark, dood is. Farouk Koopman, die moordverdagte in die Matroos-saak, is in verband met dié moord in hegtenis geneem.
Alister Jantjies, Malcolm Adams en Sadia Hammers is kort ná die moord op Daggia in hegtenis geneem. Die verdagtes, met Jantjies in absentia, het verlede Vrydag (27 Mei) in die Strand-landdroshof verskyn en hul formele borgtogaansoek teruggetrek nadat gemeenskapslede en verteenwoordigers van die Vroue in Aksie-beweging met sukses teen die formele borgtogaansoek betoog het.
Met uitsondering van Jantjies, wat mediese behandeling ontvang vir ’n rugbesering wat hy in aanhouding opgedoen het, het die moordverdagtes hulle verlede Vrydag weer in die beskuldigdebank gevind. Hulle word tot hul volgende hofverskyning op 4 Augustus aangehou.
Aisha Daggia sê die gesin is nog baie hartseer ná haar broer se dood, maar bedank almal vir hul ondersteuning.
“Dit is ’n ernstige saak en ons wil toesien dat dit as sulks hanteer word. Niks sal my broer terugbring nie, maar ons wil sien sy moordenaars boet vir hul dade,” het Daggia gesê.
Onlangse imbizo’s in sektor twee, wat op Donderdag 19, Woensdag 25 en Maandag 30 Mei gehou is, het weer ou wonde oopgekrap toe weer oor die twee moorde, wat op dieselfde dag in twee naburige woonbuurte plaasgevind en skokgolwe deur die Helderberg gestuur het, gepraat is (“Geen borgtog vir drie beskuldigdes,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Junie).
Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het drie gemeenskapsvergaderings by onderskeidelik Broadlandspark, Casablanca en Gustrouw aangebied. Die doel van die gemeenskapsvergaderings was om ’n gesprek te motiveer tussen die polisie en die gemeenskap.
Brendyn Alloys, sekretaris van die Strand GPF, sê gemoedere by die vergaderings het so hoog geloop dat sekere gemeenskapslede dit duidelik aan die polisie gestel het hulle sal die reg in eie hande neem indien dienslewering van die polisie en die polisie se sigbaarheid nie verbeter nie.
Die gemeenskap is ook nie tevrede met die feit dat sektor een net twee polisie-vangwa’s het om al die problematiese areas in die sektor te dek nie.
Kolonel Khunjulwa Khanyila, stasiebevelvoerder van die Strand-polisie, het beloof die polisie sal hul sokkies optrek as dit by dienslewering en die antwoord van telefone by die stasie kom.
“Daar is ongelukkig niks wat ons kan doen aan hulpbronne nie want ons is ’n kolonel-stasie en nie ’n brigadier-stasie nie, so ons sal nie al die hulpbronne altyd beskikbaar hê nie. Maar ons werk met wat ons het,” voeg sy by.


