Die skietery in Strand het weer opgevlam met twee vermeende bendeverwante voorvalle wat Sondag (20 Februarie) in die bestek van ure in Broadlandspark-strate afgespeel het.
Die eerste voorval het omstreeks 06:30 in Petuniastraat plaasgevind en die lewe van ’n 27-jarige inwoner geëis.
Volgens die Strand-polisie is die oorledene bekend as Emmanuel “Manie” Joen, wat in die nabyheid van sy tuiste geteiken is. Polisiebeamptes het op ’n klagte van ’n skietery by ’n woonadres in die straat gereageer en met hul aankoms die oorledene met ’n skietwond tussen die oë voor die woning aangetref.
“Die slagoffer het op die toneel aan die wond beswyk en was reeds dood met die polisie se aankoms,” het die verslag gelui. “Daar is geen getuies, beeldmateriaal of patrone op die toneel gevind nie.”
Die noodlottige skietvoorval is gevolg deur nog een wat omstreeks 09:30 in Bosduifstraat voorgekom het.
Luidens ’n verslag is ’n vrou gewond toe skieters in die gemeenskap losgebrand het.
“Volgens die slagoffer was sy by ’n winkel in Bosduifstraat toe drie skote afgevuur is. Sy het glo ’n brandgevoel aan haar kop ervaar, bloed gesien en besef dat sy raakgeskiet is,” het die verslag gelui. “Met die polisie se aankoms op die toneel was die slagoffer reeds met ’n skraapwond aan die kop na die hospitaal geneem.
’n Saak van poging tot moord word ondersoek en niemand is in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.
’n Inhegtenisneming het wel later dié dag gevolg nadat lede van die Stand-polisie se misdaadvoorkomingseenheid om hulp met voortslepende bendegeweld tussen mededingende bendes ontbied is. Beamptes het inligting opgevolg wat ontvang is oor ’n verdagte wat glo vroeër by die skietmoord betrokke was en dat die vuurwapen by die verdagte se woning versteek is.
“Beamptes het op ’n woning in Petuniastraat toegesak en ’n .38 Special-rewolwer en skerp ammunisie wat in ’n gat in ’n binnemuur versteek was, gevind,” het ’n verslag gelui.
Die 33-jarige verdagte is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Die moontlike verband tussen die vuurwapen en die noodlottige skietvoorval is deel van die plaaslike polisie se moordondersoek.
Mense met inligting word versoek om lt.kol. Franklin Plaatjies by die Strand-polisiekantoor te bel.
Hy kan by 021 854 9100 of 082 469 3359 bereik word.




