’n Organisasie wat daarna streef om ander se lewe te verhelder en te verbeter, reik nou uit na die gemeenskap om hulle te help met planne vir hul toekomstige programme.
Die welsynorganisasie Itemba Circle of Hope is in Mei 2022 op die been gebring en het sedert sy nederige begin merkwaardig gegroei.
Die byna twee jaar oue organisasie doen nou ’n beroep op die gemeenskap vir vraghouers van waar meer mense gehelp kan word.
Volgens Susan Pedro, voorsitter van die organisasie, behartig hulle tans alle projekte uit die Revival Mission-kerk in Rusthof.
“Ons bied ’n helpende hand aan dwelmverslaafdes en alkoholiste uit verskeie hoeke in die Kom, waaronder Gordonsbaai, Strand en Somerset-Wes. Hulp word ook gebied aan diegene wat identiteitsdokumente benodig,” sê Pedro.
Hoewel die organisasie kantoorruimte in Strand het, wil hy graag volhou met die helpende hand wat hy tans aan gemeenskapslede van Gordonsbaai en Somerset-Wes verleen.
“As ons ’n vraghouer kan kry wat mooi toegerus is, kan ons die mense uit die elemente neem en met die nodige privaatheid help.”
Sy vertel voorts dat Itemba-verteenwoordigers ’n pad stap saam met diegene wat hulle na die organisasie wend vir hulp.
Vorderingsverlae word saamgestel van dié wat baat vind by hul inisiatiewe en programme, wat daarop gefokus is om verslaafdes van die gewoonte of probleem te verlos.
“Die mense kom nie net hier en ons verander hul lewe nie – nee, hulle kom hier en verander hul eie lewe.
“Benewens die verslawing en die haweloosheid waartoe dit dikwels lei, is hulle mens – nes ek en jy. In die meeste van die gevalle sit ons met geskoolde mense wat op straat beland. Dis nie dom mense nie – hulle kort net ’n kans,” voeg sy by.
Die organisasie streef daarna om behoeftige mense ’n tweede kans in die lewe te bied sodat hulle weer kan werk en in die gemeenskap kan terugploeg.
“Hierdie mense by ons is skoon – hulle lewe sonder dwelms en alkohol. Hulle is reg vir werk. Dit sluit enige werk in – alles van instandhoudingswerk tot huiswerk asook werk in hotelle en restaurante.
“Itemba is net die middelman en ons is daar om dié mense geleenthede te gee en hulle in die regte rigting te stuur.”
Die organisasie het ’n instandhoudingsgroep, ’n houtwerk-groep en ’n groep wat in die tuin werk.
Elkeen van dié groepe het ’n doel en die hoofdoel is om elkeen van die mense ’n nuwe kans op ’n beter lewe te gee.
Twee sulke mense is Shumeez Bewee (39) en Josef Ramasoeu (64), wat albei hul lewe handomkeer verander het.
Bewee was vir 19 jaar op dwelms en verduidelik haar hele lewe het verander toe sy by Itemba aangesluit het, en sy is nou al amper nege maande skoon van dwelms.
Ramasoeu het alles in ’n brand verloor en by Itemba kry hy nou die kans om met sy hande te werk en weer geld te maak om ’n identiteitsdokument te kry.
Hulle is ook deel van ’n “addiction”-groep wat elke dag om 14:00 by Itemba bymekaar kom om weer op die reguit lewenspad gesit te word en waar ’n ieder en ’n elk ondersteuning kry.
“Alkohol- en dwelm-verslawing breek families op. Dit breek af wat oor jare opgebou is. “Ons vat die mense en gee hulle ’n kans om te reflekteer en ’n kans om weer op te staan en die lewe aan te durf,” voeg Pedro by.
Vir meer inligting of as jy ’n vraghouer of twee vir die organisasie kan bydra, kan jy Susan Pedro by 061 399 4460 bel.



