Die Covid-19-pandemie het nie net talle mense se lewe geëis nie, maar ook daartoe gelei dat ’n plaaslike kleuterskool se kombuis gesluit is.
Priscilla Meyer, die huidige kok by die ACVV Tinktinkie-kleuterskool in Somerset-Wes, moes aan die begin van 2021 hoor dat sy afgelê is en die skool sy kombuis toemaak.
’n Engel in die vorm van ’n organisasie sonder winsoogmerk, naamlik Care Protect Invest South Africa (CPISA), het die skool se nood raakgesien en by skenkers geld ingesamel sodat die kok weer aangestel en die kombuis weer oopgemaak kon word.
Die kombuis het verlede Woensdag (1 Februarie) sy deure weer oopgemaak en Meyer was al van vroeg af besig om die dag se ontbyt vir die kinders voor te berei.
Melani Lategan, ’n projek-koördineerder by CPISA, het verlede jaar verby die skool gery en gesien die tonnels op die skool se speelterrein het aandag nodig.
“Ek het in Maart verlede jaar ’n groep studente gesien wat op sosiale media aangedui het hulle wil betrokke raak by ’n projek waar hulle kan help. Ek het hulle gekontak en vertel van die skool se speel-tonnels wat baie sleg gelyk het. Ons het die tonnels toe oorgeverf,” vertel Lategan.
Dis egter ná die projek dat Lategan besluit het om permanent by die skool betrokke te raak deur CPISA se skenkers te oorreed om geld beskikbaar te stel om die kleuterskool se kombuis weer voltyds te open.
“Ons kon die kombuis hierdie jaar heropen deur die kok weer aan te stel – met ’n salaris – en die skenkers se geld help ook dat die skool vir die volgende jaar kos kan koop om gesonde etes vir die kinders voor te berei,” voeg Lategan by.
Wendy Dreyer, hoof van die kleuterskool, sê toe die kombuis nog gesluit was, moes die onderwysers self van hul klastyd afstaan om die kinders se kos warm te maak.
“Dit gaan nou soveel makliker werk, want nou kan die onderwysers net daarop fokus om klas te gee.”
CPISA glo daaraan dat elke kind gevoed moet wees en deesdae word die maaltye vir die 38 leerders by die skool twee weke vooruit beplan.
Meyer beplan elke ete noukeurig en maak seker die leerders met spesiale eetvoorkeure kry hul etes.
Die res kry ook iets lekkers te eet.
Hoewel Dreyer dankbaar is vir die skenkings en hulp vir die kombuis, vertel sy die skool se groot droom hierdie jaar is om ’n bus van hul eie aan te skaf.
“Ons reik uit na die gemeenskappe, sakeondernemings en organisasies en sal dit baie waardeer indien enige van hulle ons kan uithelp met ’n bus om ons leerders aan te ry,” sluit Dreyer af.
V Indien jy of iemand wat jy ken, betrokke wil raak en vervoer of enigiets anders aan die skool wil skenk, bel Wendy Dreyer by 081 579 0458.



