Die polisie maan huisbewonaars aan om diefwering by hul wonings te installeer om hulself so te beveilig teen misdaad.

Rick Marais

’n Vlaag van straat- en sakerooftogte het die Strand-polisie genoop om veiligheidswenke uit te reik sodat inwoners en sake-eienaars hul deel kan doen om misdaadsyfers te help daal.

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, versoek die publiek om meer oplettend en versigtig te wees aangesien misdadigers kanse vat as hulle ’n gaping sien.

“Inwoners moet bewus wees van wat om hulle aangaan as hulle buite rondbeweeg – veral met ’n selfoon in die hand. Moenie jou selfoon in die openbaar gebruik nie, want dit wys almal jy het ’n selfoon in jou hand. Moet ook nie oorfone in jou ore sit as jy buite gaan stap nie – jy moet te alle tye bewus wees van wat om jou aangaan.”

Hy verduidelik verder as jy of iemand wat jy ken, wel ’n prooi was vir misdadigers wat jou selfoon gesteel het, is dit belangrik om die foon se IMEI-nommer saam te neem wanneer jy die diefstal gaan aanmeld.

“Onthou ook om jou foon op die swartlys te laat plaas wanneer dit gesteel is,” voeg Beukes by.

Veiligheidshekke moet, indien moontlik, by huise en sakeondernemings aangebring word om diewe se pogings te vertraag. Maak seker jy gebruik hekke en deure met sterk slot-meganismes.

“Huiseienaars en huurders moet besef hoe belangrik honde is, want hulle waarsku ’n mens nie net oor potensiële gevaar in jou erf nie, maar honde kan ’n mens ook beskerm en intimiderend optree teenoor ’n dief of iemand wat jou eiendom onwettig betree,” sê Beukes.

Hy sê dit is ook belangrik om ’n mens se bure se kontaknommers te ken en by jou plaaslike buurtwag aan te sluit.

“Moenie na die gevaar toe uitgaan nie.

“Trek jou gordyne toe as jy nie tuis is nie, sodat opportunistiese misdadigers nie kan sien wat daar is en jou huis kan teiken nie.

“Moenie waardevolle eiendom buite laat rondlê of jou ’n maklike teiken maak deur vensters sonder diefwering oop te hê nie.”

Vir sakeondernemings (wat dit kan bekostig), stel Beukes voor die eienaars laat kringtelevisie-kameras aanbring om ’n ogie in en buite die perseel te hou.

“Moenie groot bedrae kontant op die perseel hou nie, en stel ’n veiligheidsdiens met wagte aan,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article