’n Bees wat verlede Woensdag (10 April) vermoedelik deur ’n motor in Ou Sir Lowry’s Pass-weg doodgery is, se karkas het die volgende oggend verdwyn nadat dit waarskynlik deur opportuniste weggedra is.
DistriksPos & Helderberg Gazette het Donderdag (11 April) saam met lede van die verkeersdepartement en metropolisie op die toneel aangekom waar iemand glo gesien is waar hy met ’n mes ledemate van ’n bees afgesny het (’n foto van die voorval is op WhatsApp met die koerant gedeel). Maar met die koerant se aankoms is geen bees gewaar nie – net plasse bloed en mis wat vermoedelik uit die dooie bees se pens gekrap is.
’n Nabye Stad Kaapstad-werker het bevestig dat ’n voertuig – vermoedelik ’n bakkie – stilgehou het, waarop die bees gelaai is. Bloedspore in die pad vertel ook die storie dat ’n voertuig daar stilgehou het.
Sersant Faanz Bekker, ’n woordvoerder vir die Gordonsbaai-polisie, het bevestig ’n voertuig het die bees laat Woensdag (10 April) getref en ’n ongeluk-saak is geopen, maar geen misdaadsaak word ondersoek nie.
Geen verdere inligting oor die voorval is beskikbaar nie, maar die publiek word gemaan om enige bykomende inligting oor die voorval aan die Gordonsbaai-polisie by 021 856 2677 te verskaf.



