Die Kleuters vir Jesus-kleuterskool het verlede week sy jaarlikse konsert gehou met die tema “Wilder as die Wildtuin”. Van links is JJ Smith (renoster), Elizmarie van Staden (uil) en Milienke van Wyk (leeu). Hulle is in die Zebra-klas, vir kleuters drie tot vier jaar oud. Foto’s: Lientjie Mentz


Dit was Vrydag Wilder as die Wildtuin op die verhoog van die Dr. Böhmer-vaardigheidskool toe die kleingoed van die Kleuters vir Jesus-kleuterskool hul beste voetjie voor gesit het in ’n Ouma-en-oupa-konsert.

Kleuters van so jonk soos twee jaar was in klasverband uitgedos in kostuums wat verskillende diere in die wildtuin voorstel het.

Philine van der Poel, eienaar en hoof van Kleuters vir Jesus, sê sy is trots op elke leerling wat hul hart uitgesing en gedans het op die verhoog. Die konsert is twee keer opgevoer: op 13 Oktober voor die oumas en oupas en weer op 14 Oktober.

Die kleuterskool in Universtas bestaan sedert 2007. Philine sê die skool het as ’n droom begin om kinderharte te help vorm en te help om kinders se karakter te bou en ontwikkel.

“Ons wil kinders leer om hul blinkers te saai met selfvertroue, die wapenrusting elke dag aan te trek en om hul Jesus-kroon te dra oral waar hul gaan. Hulle moet nog kind wees en soveel moontlik kan leer deur te speel.”

Die skool het 106 leerlinge, van drie maande oud tot vyf jaar.

“Dit was kosbaar om te sien hoe elke kind hom of haar inleef in ’n karakter en dit geniet,” sê sy oor verlede week se konsert.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article