Vida Strydom van die Hoërskool Witteberg se o.16B-hokkiespan in die wedstryd teen die Hoërskool Sentraal. FOTO: Verskaf

Die eerste naweek in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks was gevul met opwinding en spanning toe skolespanne in die Vrystaat en Noord-Kaap teen mekaar meegeding het.

Sportspanne van die Bloemfonteinse skole wat deel van die Wesgrow-reeks is – die Hoërskool Sentraal, Hoërskool Fichardtpark en Hoërskool Jim Fouché – het na Welkom en Bethlehem gereis vir hul eerste wedstryde, op 14 Maart.

Willie Pretorius, stut van Bethlehem Voortrekker Hoërskool se eerste rugbyspan beur voort met die bal in die wedstryd teen die Hoërskool Fichardtpark. FOTO: Lethole Mokoena 

Sentraal het in Bethlehem teen die Hoërskool Witteberg deelgeneem. Die hokkiewedstryde is vroeër beslis, in ‘n toernooi wat van 12 tot 14 Maart in Oos-Londen plaasgevind het.

Die hoogtepunt van Saterdag se wedstryde was die eerste netbalspan se spannende en uiters mededingende wedstryd. Ná ‘n sterk vertoning van albei spanne het Sentraal eindelik met 46 – 40 gewen.

Fichardtpark se spanne het ook Saterdag teen die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem deelgeneem.

Die eerste netbalspan se wedstryd het heelwat spanning ingehou, met die twee spanne wat heeltyd moes veg teen gedugte verdedigers. Die rustydtelling van 18 elk het hiervan getuig. Die derde kwart was egter ‘n draaipunt vir Voortrekker toe die span veral met aanvallende spel die oorhand gekry het. Na afloop van die derde kwart was die telling 28 – 22. In die laaste kwart was Voortrekker egter onstuitbaar. Voortrekker se hoofdoel, Cara Rautenbach, is as speler van die wedstryd aangewys. Sy het in alle opsigte met haar debuutwedstryd beïndruk.

Fichardtpark kon slegs drie doele in die laaste kwart aanteken, en die eindtelling was 44 – 26.

Die spanne van Jim Fouché was in Welkom waar die spanne in netbal, rugby en hokkie teen die Hoërskool-Goudveld meegeding het.

Goudveld se netbalspanne het in ‘n reeks van 14 wedstryde teen sterk teenstanders te staan gekom. Hoewel die uitslae nie oorwegend in Goudveld se guns was nie, het die spanne deurgaans deursettingsvermoë, spanwerk en karakter getoon. Die o.14A- en o.14B-span het uitstekende vertonings gelewer en hul wedstryde gewen. Die eerstespan het ‘n baie mededingende wedstryd gespeel, maar moes eindelik die knie buig.

Die hokkiewedstryde is by die Harmony Goutie Astro-baan aangebied, waar Goudveld se spanne hul staal teen Jim Fouché getoon het.

Hoewel die eerste meisies- en seunsspanne hul wedstryde verloor het, was dit hoogs mededingende kragmetings. Die eerste meisies-hokkiespanne was lank gelykop voordat Jim Fouché in die derde chukka die deurslaggewende doel aangeteken het. Die dag het egter die diepte van Goudveld se hokkieprogram beklemtoon.

Die o.14B-meisies het met ‘n indrukwekkende 3 – 1 oorwinning gespog, met doele deur Taliana Kota, Nicole de Beer en Quinita Putzier. Die o.14A-meisies het 0 – 0 gelykop gespeel in ‘n wedstryd wat dissipline en karakter vereis het, terwyl die derde span ook ‘n goeie 1 – 1 behaal het.

Minke Labuschagne is as speler van die wedstryd vir die eerstemeisiesspan aangewys nadat sy met haar werktempo, spelinsette en leierskap uitgestaan het. By die seuns het Eben Sander dieselfde eer ontvang vir sy energie en harde werk op die veld.

Op die rugbyveld is altesaam agt wedstryde gespeel. Jim Fouché het die meeste wedstryde gewen, maar Goudveld se o.16B-span het ‘n hoogtepunt verskaf met ‘n welverdiende oorwinning.

Die Bloemfonteinse skole speel op Vrydag 20 Maart en Saterdag 21 Maart tuiswedstryde. Sentraal speel Vrydag hier teen Goudveld, Jim Fouché speel Saterdag teen Witteberg en Fichardtpark speel gasheer vir die Hoërskool Trio van Kroonstad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article