Verbeterings aan die Maselspoort-wateraanleg sal waarskynlik nog maande duur.Foto: Verskaf


Met temperature in Bloemfontein wat die afgelope paar dae aan 40 °C geraak het, bly die watersituasie in die stad beroerd met talle inwoners wat al weke lank met min of by tye geen water in dié hitte sit.

Daar was volgens amptenare van die Mangaung-metro Woensdag 10 Desember om 01:55 ’n kragonderbreking by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg en geen water kon na die stad gepomp word voordat die krag later die oggend herstel is nie.

Dié kragonderbreking is net nog een van die talle uitdagings waaronder die inwoners van die Mangaung-metro die afgelope tyd te buk gaan.

Johan Pretorius, DA-wyksraadslid, sê die Maselspoort-suiweringsaanleg en Vaal Central Water kan onder normale omstandighede net-net genoeg water aan die stad lewer.

Veral die inwoners in Reynekelaan in Heuwelsig spook al meer as twee weke met min of geen water.

Pretorius sê dié gedeelte kry water vanaf die Spitskop-reservoir. Die reservoir voorsien water aan Groenvlei en die Vrendehof-hoewegebied sowel as Tempe. 

“Die ontwikkeling wat in Reynekelaan plaasgevind het is meer as die drakrag van hierdie waterstelsel.”

Hy sê ’n oplossing kan wees dat ’n koppeling vanaf Maselspoort gemaak word sodat hierdie deel ook in ’n krisis water van die noorde af kan kry.

Intussen kan Bloemfonteiners steeds in die volgende paar dae bloedig-warm temperature verwag.

Simpiwe Mathiha van die Bloemfonteinse weerkantoor sê die voorspelling vir Donderdag is steeds hoog en teen Vrydag koel dit net gering af tot 35 °C en bly so hoog die naweek. Van Sondag af is daar ’n 30% kans vir buie in die namiddag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article